Deur Johan Strasheim
Hy sê hy voel soos ’n seuntjie met ’n pakkie lekkergoed.
Die eerstes eet hy vinnig en ondankbaar op, maar soos hy agterkom daar is nie meer so baie oor nie, begin hy hulle diep ervaar en behoorlik proe. Net soos jou tyd, is dit nie?
’n Ou vriend stuur die ander dag vir my ’n WhatsApp met ’n gedig geskryf deur Mario de Andrade. Ek lees dit twee maal deur en moes net skielik terugsit en dink. Ek het mettertyd uitgevind hy was ’n bekende Brasiliaanse digter en skrywer wat al in 1945 op 51-jarige leeftyd oorlede is aan ’n hartaanval. Hoe hartseer is dit nie!
Sy gedig (natuurlik in Portugees, maar later vertaal), The valuable time of maturity, is pragtig en laat mens werklik oor jou lewe dink.
Hy skryf hy het sy jare agter die rug getel en besef dat hy minder tyd voor hom het om te lewe as wat hy reeds tot in daardie stadium geleef het. Meer verlede as toekoms. Meeste van ons almal kom darem in ’n stadium by daardie gewaarwording uit!
Hy sê hy voel soos ’n seuntjie met ’n pakkie lekkergoed. Die eerstes eet hy vinnig en ondankbaar op, maar soos hy agterkom daar is nie meer so baie oor nie, begin hy hulle diep ervaar en behoorlik proe. Net soos jou tyd, is dit nie?
Die besef van waar hy in sy lewe trek, laat sy prioriteite heeltemal verander en hy is duidelik oor veral wat hy nie meer in sy lewe gaan duld nie – alles wat sy kosbare tyd mors, moet opsystaan.
Hy besluit hy wil na aan menslike mense lewe, mense wat oor hulle eie tekortkominge kan lag weg van dié spul wat selfvoldaan hulleself op die skouer klop oor hulle prestasies en die suksesse van hulle voorouers waarop hulle so smalend en gemaklik teer.
Mense wat nie wegskram van hulle verant-woordelikhede nie, mense wat dinge soos waardigheid verdedig. Mense wat aan die kant van integriteit, waarheid en eerlikheid loop.
Hy wil hom omring met mense wat weet hoe om die harte van ander mense aan te raak, mense wat deur die harde houe wat die lewe soms gee, geleer het om te groei met ’n sagtheid in hulle siele. Ja, die ou erken hy is haastig en wil lewe met ’n nuwe intensiteit wat net deur volwassenheid te weeg gebring kan word.
Dit laat my dink aan so baie dinge. Dit is altyd so belangrik om perspektief te kry. Sommige kry dit ongelukkig nooit. My gedagtes is op volle vaart die verlede in en ek dink aan baie van die mense wat al my pad gekruis het – goed en sleg – en die sentimente en emosies wat dit saamsleep. My gedagtes steek vas by jaloesie – gelukkig ’n emosie wat ek nog nooit ervaar het nie. Selfs in Spreuke in die Bybel skryf die wyse Salomo: “Woede kan wreed wees en toorn ’n onstuitbare vloed, maar teen jaloesie is daar geen verweer nie.” Dit sal die mense wat dit saamdra, stelselmatig opvreet.
Daar gaan altyd mense wees wat beter doen as jy, veral as jy sukses verkeerd probeer meet. Dit is ’n ware seën as jy werklik bly kan wees vir die mense wat in jou oë meer suksesvol is as wat jy is. Hulle sal altyd daar wees.
Dit neem gewoonlik ’n verbasend klein verskil in “relatiewe sukses” vir sommige mense om die effek van die gogga te ervaar.
Jaloesie en nydigheid laat mense vinnig en onbewustelik sommer gou alle redelikheid oorboord gooi. Indien jy wonder of jy die siekte het – gaan gesels eerlik met die ou in die spieël. Dit is onwaarskynlik dat julle albei julle private waarheid gaan omseil!
Doen goed. Soos Romana my gereeld herinner: “You only come this way once!”
Vra maar altyd vir jouself af voor jy iets doen wat ander mense kan affekteer: Dit wat ek nou gaan doen of sê – wil ek dit doen of sê omdat die resultaat van my aksie tot my voordeel gaan wees – of – wil ek dit doen of sê omdat dit tot iemand anders se nadeel gaan wees? Wat is die werklike motivering? Die reg verwys gereeld na die “redelike mens”. Poog om altyd een van hulle te wees.
En so loer ons almal van tyd tot tyd in ons eie lekkergoedpakkie in… Die lekkertjies word maar vinnig al hoe minder; so suig hulle maar stadig en deeglik en waardeer die smaak van elkeen. Hulle gaan op ’n kol opraak.
Hulle sê jy het twee lewens. Die tweede begin sodra jy besef jy het net een.