Briewe

Keer terug na die waskom

Ek bly al 28 jaar op De Rust en het gou agtergekom dat jy mooi moet werk met die water.

Baie mense gaan miskien nie daarvan hou nie, maar jy het nie nodig om elke dag te stort nie. Ons sal moet terugkeer na ’n waskom en die water dan ook gebruik vir die tuin. (Geen water wat verlore gaan nie.)

Dan as jy stort: Maak jou waslap en lyf nat, draai die krane toe, was en spoel daarna vinnig af.
– Betsie, De Rust

Dit het my verneder gelaat

Ek was Saterdagaand 21 Julie 2018 so ongeveer 19:00 by die De Rust Polisiekantoor om my seun te verteenwoordig om ’n saak te maak.

Met die aankoms by die polisiekantoor is ons egter reguit verwys na die traumakamer. Ek het nog nooit trauma beleef nie. Dit was vir my absoluut vreemd en totaal onaanvaarbaar. Dit is die eerste keer dat ek nie in ’n aanklag­kantoor sake mag maak nie.

Die aksie van die betrokke polisie­beampte het my vernederd laat voel. Hy het my bur­gerskap en mens­waar­digheid gekaap.

Die betrokke polisiebeampte (Die Hoorn weerhou sy naam) was despe­­-raat omdat ek ’n saak wou oopmaak, want hy was onder die indruk hy gaan met my maak soos hy wil.

Ek het die voorval onder die stasie­bevelvoerder se aandag gebring, maar hy het in die gesprek die telefoon in my oor neergesit.

Daar is kommer onder die inwoners oor die polisie. Hulle neem verlof net wanneer hulle wil. Wanneer daar mannekrag benodig word vir ernstige gevalle word daar voorgehou daar is nie voertuie nie, maar daar is ’n klomp voertuie.

Inderdaad slaap almal nie in die gemeenskap nie. Daar is mense wat oplettend is.

Klagtes soos hierdie moet in ’n ernstige lig gesien word.
– Koos (Appetie) Goliath, Blomnek, De Rust
(Die brief is verkort en geredigeer. Dit is aan die De Rust Poli­siekantoor gestuur vir reaksie, maar geen terug-voer is ontvang nie. Met telefoniese navrae was die stasiebevelvoerder nie op kantoor nie, maar het ’n beampte ’n e-posadres verskaf waar­heen die brief gestuur kon word.
-Redakteur)

Vrae oor tye van besproeiing

Die tye waarbinne tuine op Oudtshoorn natgemaak mag word, is nie wel­deur­dag nie.

Omdat hitte verdamping veroorsaak, behoort die tye die volgende te wees: Van 07:00 tot 09:00 (op warm dae ’n uur vroeër), en van 17:00 tot 19:00 (’n halfuur later op warm dae).

Nog wenke: Ontkoppel dun besproei­ingspypies van hul staanders en plaas die punte op die grond onder boombas of ’n klip. Dit verminder verdamping en verhoed dat water op grond beland waar plante dit nie kan benut nie.
-Tuinier, Oudtshoorn
(Die brief is aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gestuur vir hul kennisname. – Redakteur)