Borgtog vir drie van vyf in diamantsaak

Oudtshoorniet ook ’n verdagte

Deur Garnett Wicomb
Borgtog van R2 000 is Maandag in die landdroshof op Oudtshoorn toegestaan aan drie van vyf mans wat aangekla word van die besit van ongeslypte diamante.

Vier van die verdagtes, Martin Botha , Moeketsi Matjoba, Jagdeep Singh Multani en Mongeotywa Fefe is verlede Dinsdag op die parkeerterrein voor die Queen’s Mall in Oudtshoorn in hegtenis geneem met twee ongeslypte diamante ter waarde van sowat R20 000 in hul voertuig.

’n Vyfde verdagte, Divan Ernest van Oudts­hoorn, is oor die naweek in hegtenis geneem.

Landdros Johan Steynberg het, op instemming van die staat, borgtog toegestaan aan Multani, Fefe en Ernest, terwyl Botha en Matjoba, albei van Lesotho, in aanhouding bly hangende uitklaring ten opsigte van hul verblyf in Suid-Afrika deur die Departement Binnelandse Sake.

Die twee is Sotho-sprekend en omdat ’n Sotho-tolk nie beskikbaar was nie, het Fefe wat die taal magtig is, as tolk opgetree.
Die landdros het die staatsaanklaer, versoek om seker te maak dat ’n Sotho-tolk gereël word en die saak tot 10 September uitgestel.