Voorverlede week neem iemand aanstoot met my medianavraag omdat dit skynbaar impliseer dat hulle “onbevoeg” is. So stap ek nou al byna twee weke rond en wonder of ek daarop moet reageer, maar ek kan nie besluit nie, want my vrou sê ek moet “slow living” en “kindness” toepas.
Die een is glo makliker as die ander, maar ek kon nog nie uitpluis watter een die makliker een is nie – albei bly my ontwyk.
Vrydagaand is ek en sy in Mosselbaai by ’n musiekvertoning van Die Wasgoedlyn. Hanru Niemand tree ook op saam met Riku en Jackie Latti en Petronel Baard. ’n Refrein uit een van Hanru se liedjies tref my: “My vriend ek raai jou aan tot stilte.”
Hanru vertel dat sy liedjie deur ’n Russiese musikant vertaal en opgeneem is en dat Google die Russiese refrein na Engels vertaal as: “My friend I remind you that silence is not harmful”.
Ek skink vir my nog ’n glas wyn en dink daaroor. Net daarna sing Riku een van die liedjies wat hy vir die film, Abraham, geskryf het en daar is die refrein: “Elke kers is ’n weerloos vlam, hy waai te maklik om”.
By die tafel langs ons sit twee mans en die een lyk bekend. Eers toe Riku hom verhoog toe roep vir ’n impromptu liedjie, want dis hoe Die Wasgoedlyn werk – niks word vooraf geoefen nie – besef ek dit is Nardus du Plooy van Die Kaalkop Waarheid.
Hy sing sy liedjie, In my lewe, wat deur Matthys Roets opgeneem is.
Waarom spring ek nou van ’n onvergenoegde persoon se reaksie na wasgoedlyne en kaalkopwaarhede? Waarskynlik omdat ek Vrydagaand weer besef het mens moet jou nie te besig hou met dinge en mense waaraan jy weinig kan verander nie.
Mense is soos mense is en dinge is soos dinge is, en as ons iewers tussendeur desondanks die onvergenoegdes, ’n verskil kan maak is dit ’n goeie ding, maar ons moet ons nie verknies as almal nie met ons saamstem of soms aanstoot neem nie.
Mense soos Riku, Jackie, Hanru, Nardus, Petronel en die liewe Gert Vlok Nel lewe vir musiek en dit wat nie hulle musiek en kreatiwiteit aanvul nie, laat hulle eenvoudig verbygaan.
In die stoel waar ek myself tans bevind, is dit nie heeltemal so maklik of prakties moontlik om iets net te laat verbygaan nie, want daar is soms moeilike vrae wat gevra moet word en moeiliker mense aan wie dit gevra moet word.
Gelukkig is daar vir my as joernalis en redakteur ’n goeie riglyn – die perskode.
Die perskode bepaal dat openbare belang die media se kernverantwoordelikheid is en vooropgestel moet word. Om openbare belang eerste te stel beteken dit dat mens soms moet krap waar dit nie jeuk nie. So, ek gaan waarskynlik nie altyd “kindness” kan toepas en rustig kan wees met berigte nie, maar ek gaan regtig probeer om soos Riku en Gertjie en ook Dana net liefde en vrede te deel. Behalwe soms. (Hannes Visser)
In die warmstoel
Hannes Visser