Niemand wat by Dawid (Bressie) en Rensie Bresler gaan kuier, hoef ooit te wonder hoe laat dit is nie. Sommer met die intrapslag hang daar twee horlosies op die stoep en net in die kombuis is daar niks minder as 35 horlosies nie.
Bressie sê hy het nog nooit getel hoeveel horlosies in die huis en in die buitegeboue hang nie, maar hy weet dit is baie en in die hok van sy 22 kanaries, is twee horlosies. “Kanaries wil ook weet hoe laat dit is,” sê hy.
Dan noem hy terloops dat die kanaries versot is op boeremusiek en lustig saamsing as hy hulle radio aanskakel. Hy wys ook ’n trofee wat hy gemaak het wat hy jaarliks aan die beste kanarie toeken. “Ek hou elke dag dagboek van elke kanarie. Hoe hulle hulle gedra, hoeveel eiers hulle lê, hoe hulle pronk. hoe hulle sing en dan kry die beste een die beker. Hulle is vreeslik trots as hulle die beker ontvang,” verduidelik hy.
Daar is seker niks besonders aan iemand wat ’n swetterjoel horlosies versamel nie, maar die prentjie lyk heel anders as Bressie vertel dat hy elke horlosie se gesig en houer self uit gevonde materiaal maak.
“Ek koop die horlosie se werkende dele en wysers en dan gebruik ek enigiets wat ek opgetel het om ’n horlosie te maak. Ek hou alles wat ek optel, niks word weggegooi nie.” Behalwe vir die horlosies is daar ook lampe, karre, portret-rame en wat nog wat alles uit weggooi-materiaal gemaak word.
Tydens sy jare as amptenaar by korrektiewe dienste het hy dosyne kunswerke uit vuurhoutjies geskep en volgens hom het hy selfs ’n hele dubbelbed met vuurhoutjies versier. Vandag gebruik hy steeds vuurhoutjies, maar die horlosies neem die meeste van sy tyd in beslag.
Waarom doen hy dit? “Die Here het my ’n ta-lent en ’n gawe gegee om met my hande te werk en daarom word ek elke dag wakker met die drang om iets te maak. “Ek kan nie anders nie. Ek brei en hekel en doen ook tapisseriewerk, alles. Jy moet gebruik wat Hy gee en ek wil ook graag my talente gebruik om ander mense te help.
As iemand belangstel om met Bressie te gesels kan hy by 073 297 2082 gekontak word.
(Die Hoorn wil graag vir die volgende aantal weke nog van Oudtshoorn se beoefenaars van interessante en unieke stokperdjies ontmoet. As jy ’n uitsonderlike stokperdjie het, of weet van iemand, laat weet ons asseblief. Stuur ’n boodskap per WhatsApp of per e-pos aan Hannes by 083 467 1522 of editor@hoorn.co.za). (Hannes Visser)
Die tydbouer van Loopstraat
Bressie Bresler by slegs ’n klein aantal van sy groot versameling horlosies, lampe en ander artikels wat hy uit herwinbare materiaal maak. Foto Hannes Visser