100 haweloses van Oudtshoorn is Dinsdag, 1 Oktober, deur EasyPay bederf toe elkeen van hulle ’n R500 koopbewys en ’n slimfoon ontvang het.
Jerome Smith van EasyPay se tak in Oudtshoorn vertel dat hulle gekontak is deur Hope Support, ’n nie-winsgewende organisasie wat in Heideblomlaan in Bridgton geleë is, om hulp te verleen aan die hawelose mense aan wie die instansie een maal per week ’n ete verskaf.
“Dit is vir my baie lekker om te weet dat EasyPay kan teruggee aan die gemeenskap van Oudtshoorn”, het Smith aan Die Hoorn gesê.
Mnr Koos Claasen, voorsitter van die Hope Support groep, sê dat hulle ongelooflik opgewonde is oor die geskenkpakkies wat aan hul mense uitgedeel is. “Hierdie is ’n groot seën, ons het dit glad nie verwag nie”, het hy gesê.
Daar is ’n aantal weke gelede ook aan 100 haweloses geskenkbewyse uitgedeel. Die geskenkbewyse kan by Shoprite, Checkers en USave gebruik word. (Lindi Brill)