Eljada Kairos deel van nasionale toernooi

Die vyf leerders van Eljada Kairos wat in Gqeberha deelgeneem het, is van links: Jaydin Kenniek, Brendoline Loff, Gift Mgolozi, Haiden Cloete en Jaylin Kenniek. Foto Verskaf

Leerders van Eljada Kairos Skool in Oudtshoorn het die afgelope skoolvakansie in Gqeberha op nasionale vlak deelgeneem aan die toernooi van Wes-Kaap Sport vir Para-Atlete met Verstandelike Gestremdhede.

Vyf leerders het in hul onderskeie sport-kodes deelgeneem nadat hulle in Junie Wes-Kaap kleure verwerf het by die Wes-Kaapse Winterproewe in die Paarl.

Hulle is opgeneem in spanne vir netbal, sokker, landloop en basketbal.

Die netbalspan en die seuns-basketbalspan het ’n tweede plek verwerf, terwyl die dogters-basketbalspan ’n eerste plek behaal het.

Dit was die eerste keer dat hierdie leerders ’n geleentheid gehad het om die see te sien, en saam met hulle afrigter, mnr. Hendri Calitz, ook ’n kans te kry om op heerlike uitstappies te gaan. (Lindi Brill)