Dit blyk dat struwelinge tussen bure nie net tot huise beperk is nie, maar dat besigheidsbure mekaar ook die josie in kan maak. Die verkeers-afdeling was Maandag uitgeroep nadat die eienaars van Strydom Begrafnisdienste een van hulle voertuie voor die ingang van die nuwe MacDonald’s-perseel getrek het.
Dit was uit protes teen Macdonald’s-klante wat in Adderleystraat voor die begrafnisdienste se hek staan en wag om van die deurry-bediening gebruik te maak. Nadat ’n verkeersbeampte met die eienaar van die begrafnisdienste gesels het, is die voertuig weggetrek, maar dit was glad nie die einde van die kwessie nie.
’n Senior amptenaar van die munisipaliteit sowel as die verkeershoof was op die toneel om na moontlike oplossings te kyk. Die probleem duik op wanneer die ry wagtende motors te lank raak en dan in die rigting van Laerskool van Reede begin opdam. Die gesprek tussen die eienaars van die begrafnisdienste en die munisipale amptenare het op ’n stadium heftig geraak met die eienaars van die begrafnisdienste wat daarop aandring dat geen motors voor hulle besigheid mag staan nie en nie slegs net voor hulle ingang nie. Volgens ’n verkeersbeampte wat vroeër op die toneel was, was dit nie die eerste keer dat hulle uitgeroep is om die kwessie aan te spreek nie.
Dit het ook Maandag onder die aandag van amptenare gekom dat strepe wat in Adderleystraat voor MacDonald’s geverf is, blykbaar sonder munisipale goedkeuring aangebring is. As ’n eerste stap om ’n oplossing te vind, gaan die munisipaliteit die strepe wat wederegtelik aangebring is, doodverf en volgens regulasies nuwe padmerke aanbring. Daar gaan ook rooi strepe wat stilhou verbode maak, voor die ingang na Strydom Begrafnisdienste aangebring word.
Daar is ’n beroep op die eienaars van die begrafnisdienste gedoen om nie weer reg in eie hande te neem deur ’n ander besigheid se ingang met opset te versper nie.
Inwoners wat Macdonald’s besoek word gevra om nie op die gedeelte wat deur rooi strepe afgesper is, te wag om by die restaurant in te draai nie. Sodoende word vrye toegang aan die personeel van die begrafnisdienste verseker. (Hannes Visser)
Sonde met die bure
’n Sekuriteitsbeampte reguleer motors wat by MacDonald’s in- en uitry terwyl ’n voertuig van Strydom Begrafnisdienste ’n gedeelte van die ingang versper. Foto: Hannes Visser