
Die maandelikse netwerkaand van die Oudtshoorn Besigheidskamer verlede Donderdagaand is deur ongeveer 70 gaste bygwoon. De Rustica was die gasheer van die aand.
Die voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI), dr Willie Cilliers, het die aand bygewoon en Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, gelukgewens met sy aanwysing as die AHI se opkomende sakeleier van die jaar.
Dr Cilliers het die goeie nuus met gaste gedeel dat Oudtshoorn gekies is vir vanjaar se aanbieding van die AHI-kongres wat op 8 November plaas-vind. Die vorige aand gaan ’n gala-geleentheid aangebied word waar die wenners van die MyAHI-toekennings aangekondig sal word. Albei geleenthede vind plaas by Makietie Venue by Volmoed buite Oudtshoorn.
Hy het sakelui aangemoedig om in te skryf vir die MyAHI-toekennings wat in die volgende ka-tegorieë beoordeel word: Sakekamer van die jaar, Opkomende sakekamer van die jaar, Kleinsakebesigheid van die jaar, Beginnerbesigheid van die jaar, Kleinboer van die jaar en Gasvryheidsbesigheid van die jaar. Inskryfvorms is beskikbaar by https://hmd.social/FDbvT.
Inskrywings sluit op Maandag 14 Oktober 2024. (Hannes Visser)