Voete roer met boeremusiekfees

Bo: Daar is van vroeg tot laat met elke nommertjie geskoffel. Onder: Een van die orkeste wat georg het vir eg-tradisionele boeremusiek. Heelonder: ’n Skermgreep van Joubert Ryksen en sy gesin op die verhoog. Foto's verskaf

Bykans 300 mense het die afgelope naweek die Grootvoël Boeremusiekfees by Oudtshoorn Hoërskool bygewoon. ’n Groep van 35 boeremusiekgeesdriftiges het spesiaal van Gqeberha gekom om die fees by te woon.

Daar was selfs ’n gesin uit Noorweë wat meer oor die Afirkaanse kultuur wou leer. Vanjaar was die 12de boeremusiekfees wat in Oudtshoorn aangebied is. Die fees is destyds deur Willie Marais in Oudtshoorn begin. Volgens terugvoer van besoekers wat van die vorige feeste bygewoon het, was vanjaar s’n een van die bestes.

’n Hoogtepunt van die fees was die optrede van die 15-jarige Joubert Ryksen met sy konsertina.

Joubert en sy gesin het al die pad van Bloemfontein gereis om die fees by te woon.
Bekendes in boeremusiekkringe soos die Kaapse Affodille, die Baardskeerdersbosorkes en Allen Green was deel van die aanbod van uitstekende musikante wat gesorg het dat die dansvloer deeglik benut is.

Die Hoorn se gewilde Gemeenskapsmark wat gewoonlik op die skougronde gehou word, is verlede Saterdag geskuif om deel te wees van die musiekfees en was nog ’n hoogtepunt vir besoekers.

Die organiseerders bedank die feesgangers en musikante wat deel was van die fees asook die volgende instansies, persone en diensverskaffers wat tot die suksesvolle aanbieding van die fees bygedra het: Black Swan Restaurant wat die hoofborg was, Radio Namakwaland, Suid-Kaap besproeiing, Die Hoorn, Hoërskool Oudtshoorn, Johan Brooks, Johannes van der Colff, Willem Marais en Suid-Kaap Trekker en Implimente-klub.

Vir die organiseerders was die naweek se fees weer ’n bevestiging dat daar steeds ’n groot liefde vir boeremusiek en Afrikaanse tradisie is.

Lesers kan gerus die Facebookblad, Grootvoël Boeremusiekfees, besoek vir foto’s en videos van die naweek se gebeure.