Ons is geneig om te sê: “Nuwe jaar, nuwe uitdagings”. Die waarheid is egter dat Januarie bloot net nog ’n maand is met dieselfde roetine, dieselfde verpligtinge en dieselfde uitdagings as Desember. Behalwe natuurlik dat dit vir almal voel asof Januarie 60 dae het.
Vir sommige mense beteken Januarie wel veranderinge soos ’n nuwe betrekking, ’n verhuising na ’n ander plek, ’n nuwe universiteits- of skooljaar. Vir die meeste van ons is dit egter “business as usual”, maar ons het tog die behoefte om ’n nuwe jaar anders en met nuwe voornemens aan te pak.
My voorneme vir 2025 is om die Amerikaanse podgooier, Mel Robbins, se teorie van Let Them te volg. Ek het nog net hier en daar iets gelees en het nog nie haar boek wat in ’n paar maande miljoene kopieë verkoop het, onder oë gehad nie. Haar teorie maak egter sin – Laat hulle begaan. Basies kom dit daarop neer om jou nie te verknies oor ander mense se kwessies nie. My vrou raas gereeld met my as ek iets op sosiale media lees en dadelik wil reageer. My voorneme vanjaar is om mense oor te laat aan hulle eie dwaalspore, geite en giere, want ek kan dit nie verander nie en dit mors eenvoudig te veel tyd.
Ek onthou vroeg vanoggend een van die dinge wat ek vir almal sê as hulle na my toe kom vir lewensafrigting: “Jy moet eers okay wees met jouself voordat jy ander kan help”. Ek preek dit, maar ek skeep dit self af. Die energie wat ons gebruik om met ander mense te verskil en hulle te probeer oortuig dat hulle verkeerd is, word net uit een bron getap – onsself. Is dit werklik die moeite werd om in hewige argumente betrokke te raak oor Trump, oor Hop-hop spinnekop of oor Louis Liebenberg se diamantpakkies? Die wat anders as ek glo, gaan in elk geval anders glo. Laat hulle begaan.
Dit beteken nie ek gaan ophou om my mening te gee nie – allermins, maar ek gaan my uiterste probeer om nie energie te mors deur mense se sienswyses te probeer verander nie. My Facebook-bladsy het ’n handige Unfriend- en Block-funksie. Baie makliker om dit te gebruik as om iemand te probeer oortuig dat die aarde nie plat is nie, dat Louis Liebenberg nie die volk se Messias is nie en dat kameelperd-mammas nie skielik in 2024 geleer het om hulle kalfies te abba nie.
Mag 2025 vir elkeen van ons lesers ’n jaar met min konflik en groot vreugde en waagmoed wees. (HANNES VISSER)
In die warmstoel: Laat hulle begaan
