Daar is min dinge in die lewe wat my so warm onder die kraag maak soos mense wat alewig laat
is. Toegegee, daar is dikwels onverwagte omstandighede wat opduik en mens se planne in die wiele ry, maar genade, sommige mense is dan altyd laat. Ek onthou jare gelede het ek ’n kollega gehad wat klokslag 10 minute voor sy wekker wakker geword het.
Dit was ongelooflik. Ons het dikwels saam in die Oos-Kaap gewerk en in gastehuise geslaap. Hy sou elke aand vra hoe laat ons moet opstaan, sy wekker stel en tien minute voor die tyd wakker word – of dit vieruur of vyfuur of seweuur was.
Dit was nie die ongelooflike deel nie – wat ongelooflik was, was dat ons klokslag ’n halfuur laat was vir elke afspraak en talle vliegtuie verpas het. Om betyds te wees was vir hom onmoontlik en om ’n halfuur vroeg te wees sou ondenkbaar wees.
’n Ruk gelede maak iemand weke voor die tyd ’n afspraak om my te sien oor ’n manuskrip. Twaalfuur. Die tyd word bevestig en die dag breek aan. Twaalfuur kom en gaan.
Net voor een kom ’n boodskap “Verwag my oor ’n halfuur.” Die halfuur en nog ’n halfuur kom en gaan en my termometer se kwik wil oorkook. Ek raak doenig met ander dinge en dink biedêm met jou. Hier by drieuur kry ek ’n boodskap. “Jammer jong, ons het eers gou gaan swem, kan jy dalk hiernatoe kom?”
Nou wat op aarde antwoord mens op so iets sonder om soos ’n suurknol van 67 te klink?
Gaan loer maar bietjie na die ouers wat kinders skool toe bring, die mense wat saam met jou werk, die mense wat saam met jou in ’n saamryklub is, die vriende wat saam met jou na ’n ete of opvoering toe gaan; Dieselfdes is altyd laat. Nou nie so laat dat alles uit die bus val nie, maar
klokslag 10 of 15 minute. Waarom?
Ek is so pedanties oor tyd dat ek en my vrou eenkeer twee weke te vroeg by ’n funksie opgedaag het. Ek het so op die tyd gekonsentreer dat ek die RSVP-datum met die funksie se datum verwar het en ek het twee dae se stilswye van my vrou op die hals gehaal.
Hoe meer ek daaraan dink hoe meer oortuig raak ek dat laatkom weinig te doen het met die onvermoë om tyd te bestuur. Dit is bloot ’n afwesigheid van respek vir ander.
Stenig my maar as iemand sou wou, maar dink bietjie daaroor. As ek mense telkens laat wag, respekteer ek mos nie hulle tyd nie. Dit het min te doen met ’n “besige lewe” of “te veel verpligtinge”. Inteendeel, mense wat vrek besig is, is selde laat. Dit het te doen met respek. Punt! (HANNES VISSER)
In die warmstoel: Agteros kom nooit in die kraal nie
Hannes Visser