
Die 48ste SA Tweekampkampioenskappe wat môre en Saterdag, 21 en 22 Maart, in Oudtshoorn aangebied word, het 913 inskrywings van 14 streke in provinsies vanoor die hele land gelok.
Daar is ongeveer 80 beamptes toegewys en met van die land se beste tweekampatlete kan ʼn hele aantal rekords moontlik spat. Bykans 1 150 mense het aangedui dat hulle die gala-funksie Saterdagaand by Highgate volstruisplaas gaan bywoon.
Jakhals Events Management is aangestel om die aktivering van die byeenkoms te doen.
By die amptelike openingseremonie Vrydagmiddag sal die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, die besoekers welkom heet en die bekende Bok Radio omroeper, Johan Ferreira, tree op as die aankondiger.
Die verkorte program sien as volg daaruit:
Vrydag: 11:00: Registrasie van spanne – Eden Sport Academy
12:00: Spanbestuurdersvergadering – Eden Sport Academy
13:00: Spanfoto’s – De Jager Atletiekstadion
16:00: Amptelike opening – De Jager Atletiekstadion
17:30: Presidentsfunksie – Georgie Klubhuis by Hoërskool Oudtshoorn.
Saterdag: 07:00: Eerste wedloop – De Jager Atletiekstadion
10:00: Eerste sessie swem – NA Smit Swembad
13:00: Tweede sessie swem – NA Smit Swembad
19:00: Galafunksie en prysuitdeling – Highgate Volstruisplaas
Eden Tweekamp as gasheerprovinsie word bygestaan deur die Wes-kaap Tweekamp Forum [Eden, Boland & WP] om die prestige byeenkoms te organiseer.
Die drie premiumborge vanjaar is die Wes-Kaapse departement van kultuursake sport, die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit en SimCash.
Sonder hulle en die sekondêre borge was ’n byeenkoms van hierdie statuur net eenvoudig nie moontlik nie, sê Dave van der Walt wat reeds jare by Tweekamp betrokke is.
Hy noem dat die kampioenskap ’n ekonomiese inspuiting van ongeveer R7 miljoen vir die dorp beteken.