In die warmstoel

Hannes Visser

Die land (en die wêreld) het verlede week omtrent gegons na die besoek van president Cyril Ramaphosa en sy afvaardiging aan die Withuis. As mense nie te velde getrek het teen die teenwoordigheid van gholfspelers, Retief Goosen en Ernie Els nie, het hulle gekla oor die DA se John Steenhuisen se insette of oor die insluiting van die sakemagnaat Johann Rupert.

Aan die een kant het mense die Amerikaanse President Donald Trump (ek voeg maar sy naam by ingeval iemand nog nie weet nie) daarvan beskuldig dat sy onverwagse vertoning van videomateriaal onprofessioneel en laakbaar was. Sommige nuusagentskappe het groot gewag daarvan gemaak dat die foto’s van “wit mense” wat vermoor was wat Trump rondgeswaai het, eintlik foto’s was van reddingswerkers in die DRK.

Reaksie oor Ramaphosa se insette het ook gewissel van komplimente dat hy hom nie deur Trump laat boelie het nie tot beskuldigings dat hy nie eerlik was oor die misdaadsituasie in die land nie.

Soveel mense, soveel kenners en soveel opinies. Die feit van die saak is dat hy daar was en dat daar in hierdie liewe land van ons geen eenstemmighed sal wees oor die waarde (of nie) van die besoek nie. Waaroor daar wel eenstemmigheid is, is dat daar nie eenstemmigheid is nie.

Soos ’n oom eendag gesê het “Jong, die enigste sekerheid wat ek in die lewe het, is dat daar geen sekerheid is nie. Die lewe is soos ’n ‘streetfight’ – die enigste reël is dat daar geen reëls is nie.”

Daar het soveel kommentare oor die Ramaphosa-besoek op sosiale media verskyn dat mens waarskynlik kwalik ’n tiende daarvan raaklees. Een wat ek wel onthou was van die skrywer, Rudi van Rensburg, wat gevra het hoe sou Trump reageer het as hy hierheen gekom het en president Ramaphosa het om onkant gevang met videomateriaal van skietvoorvalle by Amerikaanse skole.
Die kommentare wat daarop gevolg het, het my nie verstom nie.

Mense het net raakgelees wat hulle eie sienings versterk het. Die vraag wat Rudi gevra het, het niks te doen gehad met die inhoud van die videomateriaal wat Trump vertoon het nie. Dit het te doen gehad met die etiek van ’n president tydens ’n ander president se besoek.

As mens deur al die kommentare lees, is dit duidelik dat arme Rudi met een plasing van ’n relevante vraag sommige van sy getroue lesers en aanhangers die harnas in gejaag het.

Iewers het een helder stem van ’n persoon opgeklink wat na die kommentare verwys het en gesê het “Nou kan mens sien dat daar nie meer begripstoetse op skool is nie.”

Ek preek al lank hieroor en ek staan steeds by my mening dat ons tot ’n groot mate die vaardigheid verloor het om situasies in konteks te sien en om met begrip waar te neem, te lees en te luister.

Kyk maar hoe dikwels vra mense werklik simpel vrae oor berigte waar die inligting in die berig staan, maar hulle het dit bloot nie gelees nie. Een van my gunsteling opmerkings was iemand wat ’n ruk gelede op Facebook by die berig van ’n brand kommentaar lewer: “Oe jene, ek hoop nie is hier naby ons nie! Waar is dit?”

Seker niks verkeerd daarmee nie, totdat mens besef die berig noem dat die brand in Oudtshoorn is en die persoon wat kommentaar lewer woon in Gauteng. Dalk ly ons almal maar net so ernstig aan FOMO (fear of missing out) dat ons enigiets sê net om deel te wees van iets. (HANNES VISSER)