
Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, en die onderburgemeester, Mziwoxolo Tyatya, het verlede Donderdag, 22 Mei, 24 huise aan inwoners van Dysselsdorp oorhandig.
Die huise is die finale fase van ’n behuisingsprojek vir Dysselsdorp wat in Oktober 2021 deur die provinsiale minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers, geloods is. (Simmers is tans provinsiale minister van infrastruktuur).
Tydens die oorhandiging het die burgemeester gesê, met die 24 huise word die huidige ontwikkelingsfase vir Dysselsdorp afgesluit. Met die volgende fase sal inwoners ten volle gedienste erwe ontvang waar hulle hul eie strukture kan oprig.
“Ons doel is om oor die volgende vyf jaar nuwe behuisingsontwikkeling regoor Oudtshoorn te sien. Ek wil die munisipale departement van menslike nedersetting, die Wes-Kaapse regering en ASLA, die inplimenteringsagent, bedank vir hulle toewyding en vennootskap waarsonder dié projek nie moontlik sou wees nie.”
Hierdie projek wat in 2021 geloods is, is die eerste grootskaalse behuisingsprojek in Dysselsdorp die afgelope 26 jaar. Met ’n begroting van R130 miljoen is daar beplan om 522 behuisingsgeleenthede te skep.
Met die afsluiting van die projek verlede week is 483 huise en 39 gedienste erwe sedert 2021 aan begunstigdes oorhandig.
Gedurende die eerste fase is huise aan bejaardes oorhandig en later was persone met spesiale behoeftes op die lys.
Die projek het toeganklikheid as prioriteit beskou en verskeie huise is ontwerp om in die behoeftes van persone met gestremdhede te voorsien. Kombuise en badkamers in dié huise is ook ontwerp vir gebruik deur persone in rolstoele.
In ’n mediaverklaring van die munisipaliteit sê woordvoerder, Aurelia Mle, die behuisingsprojek het nie net broodnodige behuising verskaf nie, maar ook werksgeleenthede geskep en tot die ekonomie van die gemeenskap bygedra.