Ek het vanmôre lank by die waterkraan in my voortuin gestaan en dink oor die lewe en hoe belangrik lewe en oorvloed is. Ek het eintlik kraan toe gestap om die koffiesak en die koffieketel uit te spoel. Ek wou vanmôre Ousie Roeslyn en vir myself tuisgebrande koffie maak.
Ek het gedink aan Ousie Roeslyn se telefoonop-roep van die vorige aand. Sy het geskakel om te sê dat sy oor iets met my wil praat. Iets wat haar glo na aan die hart lê. Ek het probeer om haar uit te vra oor haar geheimsinnigheid, maar sy het gesê, en dit was haar direkte woorde: “Wag tot môre, dan sal ek jou sê wat my pla.”
Ousie se oproep van die vorige aand het my nogal gepla. Wat of waaroor sy met my wou praat was die gedagte wat my die hele tyd laat wonder het. Dit was die gefluit van die waterketel wat my herinner het aan my selfopgelegte taak. Die koffie wat ek besig was om voor te berei. Dit is toe dat ek die tuinhekkie hoor toeklap.
Ousie Roeslyn het soos ’n vars briessie by die deur ingewaai. “Môre, Gert,” het sy my hartlik gegroet. “Ai, maar die koffie ruik darem maar lekker! gaan ons sommer net hier in die kombuis sit, of gaan ons stoep toe?”
“Ousie kan maar solank stoep toe stap. Neem sommer die bord met die toebroodjies saam, dan bring ek die koffie.”
“Dit is nogal koelerig vanmôre hier op die stoep, ek dink ons koue dae is al in die aantog,” het Ousie opgemerk, toe ek die koffie koppies en koffie ketel neersit. Sy het sommer in dieselfde asem vir almal koffie ingeskink.
“Gert,” het ousie sommer met die deur in die huis geval. “Jammer dat ek jou so onnodig nuuskierig gemaak het. Daar is iets wat my die afgelope tyd beginne pla het oor jou. Die behept-heid oor versande fondasies, puinhope, oorlog- stories en nawelstringe.”
“Ek onthou toe jy in 2020 die boek oor Prins Albert geskryf het, daar was een van jou gedigte in die boek opgeneem. Die naam van die gedig was Ebenhaeser. Jy sien, Gert,” het Ousie stoom opgetel. “In die tweede strofe van daardie gedig om presies te wees, sê jy in die vierde en vyfde versreël (ek haal aan): ‘Net buitekant die dorp waar my naelstring begrawe lê.”
“Jy sien, hier praat jy van jou ‘naelstring’, maar in jou nuwe bundel skryf jy ’n nuwe gedig met die titel: Ons is genaelstring – en dit is toe dat ek sien jy praat van ‘Ons’ – en net daar het ek besluit wie is daardie ‘ons’ van wie jy praat? Jy ken mos die spreekwoord wat sê: ‘hoeveel ons is in jou pond?’ So, my vraag wat ek die antwoord by jou wil hê is: Wie sluit jy almal in by die groep as jy na die ‘ons’ verwys? Toe, Gert, sê jy vir my wie is daardie ‘onse?” het ousie haar betoog afgesluit.
Ek het weereens na die folio-bladsy gekyk wat sy so netjies voor haar toegevou het.
“Nee Ousie”, het ek my kop geskud. “Hierdie gedig op die folio-bladsy was my eerste poging. Die boek met hierdie gedig in sy nuwe vorm, is reeds by die drukkers (uitgewersmaatskappy). Jy praat, Ousie, van ‘hoeveel onse is in jou pond’. Kom ek sê vandag, Ousie, daar is vandag hope ons in die pond waarvan ek in die nuwe bundel praat.
As ek praat oor die naelstring-konsep, en hier, Ousie, gaan ek sommer van die heup af skiet. As ek in die gedig praat van ‘Moeder Afrika’, praat ek van die natuur se naelstring. Dit is ’n simboliese, eintlik sinnebeeldige voorstelling van die naakte waarheid.”
“As ons praat van Afrika se naelstring, is dit die string wat haar kinders gevoed het en van suurstof voorsien het.”
Ek het vir elkeen van ons ’n lekker koppie vars koffie geskink. Ons het die koppies teen mekaar geklink en toe sê ek: “Kom Ousie, kom ons lees die gedig hardop saam sodat elke leser sal verstaan:
“Ons is genaelstring
Ons is genaelstring aan die land van ons geboorte
van ek my verstand kom kry het,
was daar ’n band tussen my en Moeder Afrika,
veral tussen die heupe
waar Moeder Afrika vernou,
veral hier aan die Suidpunt, waar die meeste van haar kinders vandag nog ingewortel is,
verstrooi is, genaelstring is, oor Afrika en in besonder Suid van die Zambezi, benede die Limpopo, is daar
stawende bewyse in die voetspore van die Eerste
inheemse voorsate, want in Afrika was daar nooit mensgemaakte grense, wat die inheemse
Khoi-Khoi en San voorsate net tot die Moederland beperk,
net soos wat die Mensgemaakte reëls en regulasies dit wou hê,
die vryheid waaraan ons gewoond was deur gewoontereg kon ons nooit regtig inperk, daarom is die grondbrief
van ons rotsskildering in hierdie Moederland se vesels en sy voue, vir nageslag verseker.” (Deur Poem Mooney)
“Hoeveel onse in jouse Pond?”
Deur Poem Mooney