’n Legendariese aktrise, ’n internasionaal-erkende skrywer, ’n jong stem wat ál harder praat, ’n man wat diep spore in die Klein Karoo getrap het en ’n kunstenaar met Suid-Afrika in sy bloed.
By vanjaar se KKNK word erkenning gegee aan Jana Cilliers, Deon Meyer, Eldon van der Merwe, Poem Mooney en die feeskunstenaar Colbert Mashile.
Die aktrise Jana Cilliers ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking en sê hierdie eerbewys is soveel meer spesiaal omdat sy vanjaar op die KKNK is met ’n stuk wat sy geskryf het. “Jy kan nie speel wat nie geskryf is nie,” sê sy.
Die stuk is Veelhoek, ’n gesprek tussen Cilliers en haar neef Barnard Gilliland, die belowende digter wat sestig jaar gelede op 24-jarige ouderdom in ’n motorongeluk oorlede is.
Deon Meyer ontvang vanjaar die KKNK Afrikaans Onbeperk-prys vir literêre bydrae.
“Hierdie prys is ’n geweldige eer en het my onkant gevang. En dis nie skyn-nederigheid nie. Om vereer te word vir iets wat vir jou so lekker is om te doen, voel amper verkeerd,” sê hy.
Eldon van der Merwe word vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir jong stem. Hy was 12 jaar oud toe hy ’n rol in ’n verhoogproduksie van Fiela se kind gespeel het en ná skool het hy drama by Northlink College studeer. Rolle in reekse soos Arendsvlei en Ouboet en Wors het gevolg, asook werk vir die verhoog in onder meer Fietsry vir dommies wat vanjaar op die KKNK-program is. Die veelsydige Van der Merwe is ook te sien in die musiekblyspel Roem.
Die legendariese storieverteller en skrywer Poem Mooney ontvang die KKNK-prys vir lewensbydrae tot kuns en kultuur. Boeke soos Kringe om die maan, Dit klink soos ’n klok en Stories uit Lap, sy boek oor Prins Albert, het al uit sy pen verskyn en hy is die stamhoof van die Attakwa Khoisan-organisasie wat hy in 2000 by die Wêreldberaad van Inheemse Volkere in Switserland verteenwoordig het.
As hy een ding as hoogtepunt in sy lewe van 81 jaar moet uitsonder, is dit dat hy Kairos, ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes, in Oudtshoorn begin het. Later het Eljada, ’n sentrum vir intellektueel gestremde volwassenes, en Kairos saamge-smelt. “Dit is die grootste oomblik in my lewe,” sê hy. Mooney se liefde vir Afrikaans is duidelik in alles wat hy doen en sê. “As jy gebind is aan ’n taal, het jy ’n plek; is jy geknoop aan jou land. Die KKNK is ook so ’n knoop wat van die begin ’n invloed op ons gemeenskap gehad het. Nie net op Oudtshoorn nie, maar ook van suid na noord. Hoeveel feeste het nie daarna begin nie?”
Hy sal graag onthou wil word vir sy betrokkenheid in die gemeenskap. “Ek wil nooit in enige ander land woon nie. Ons moet positief bly. As jy positief is, kan jy voortgaan.” Mooney stel sy nuwe boek, Waaraan dink poëte?, by die KKNK bekend en sy stories word vertoon in ’n spesiale openbare geleentheid, Die staaltjiemeester.
Colbert Mashile is die Feeskunstenaar. In die Jakarandastad het die jong Mashile vir die eerste keer kunsgalerye ontdek en net geweet: “Dít is wat ek wil doen; ek wil ’n kunstenaar word”
Kry die volledige feesprogram aanlyn by www.kknk.co.za en kaartjies by Webtickets.
Kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Poem Mooney en ander vereer deur KKNK
Bo: Poem Mooney ontvang die KKNK-prys vir lewensbydrae tot kuns en kultuur.
Foto: Ryan Dammert