Agri SA se tak, Agri Wes-Kaap het op Donderdag 29 Februarie hul jaarlikse streekkongres by Kansa Krale se splinternuwe veilingslokaal gehou.
Agri SA kan beskryf word as ’n besigheids-kamer vir boere, waaraan verskillende provinsiale en plaaslike boereverenigings behoort.
Lede van verskeie boereverenigings van die hele Wes-Kaap asook, gaste het Donderdag die kongres bygewoon.
Die skrikkeldag was beslis uniek, omdat dit baie warm was op Oudtshoorn met die kwik wat rondom 40 grade gedraai het.
Verskeie sprekers het die oggend gaste toegespreek en gesels oor verskeie kwelpunte. Die 2024 Jong Boer kompetisie wat vanjaar weer aangebied word deur Agri Wes-Kaap is ook bespreek.
Kriteria vir boere wat wil inskryf of selfs genomineer word sluit die volgende in:
- Boere moet 40 jaar of jonger wees
- Boere moet vir een jaar ’n opbetaalde lid van’n boerevereniging wees.
Om ’n boer te nomineer of self in te skryf, besoek gerus die webwerf www.awk.co.za waar ’n inskrywingsvorm afgelaai kan word. Skakel ook 021 860 3801 vir meer inligting.
Plaaslike boer, en ook die voorsitter van Agri Wes-Kaap se Natuurlike Hulpbronne, Laubscher Coetzee het die kongres gelei, en gaste verwelkom. Coetzee boer op Volmoed.
Bartel du Toit, wat ook op Volmoed boer, het die oggend geopen met skriflesing en gebed.
Johan Kotzé, hoof-uitvoerende beampte van Agri SA, het gaste toegespreek. Kotzé het in Oktober 2023 by Agri SA aangesluit. Agri SA is vanjaar 120 jaar oud.
“Boere is belangrik vir Suid-Afrika, nie net vir die ekonomie nie, maar boere gee vir die land kos,” het hy gesê.
Boere van die Klein Karoo het sowat 8 jaar vanaf 2015 tot 2023 ’n groot droogte beleef. Die welkome reën wat in 2023 geval het en gesorg het vir genoegsame water om die las te lig, is slegs ’n tydelike lafenis omdat voorspellings en navorsing daarop dui dat die area se klimaat in die toekoms nog droër gaan raak met minder reën.
Hy het vertel dat vorige geslagte ook deur droogtes en uitdagings gegaan het, maar ook aan die anderkant uitgekom het. Hy beklemtoon dat dit egter belangrik is om te kyk na ander opsies en ander produkte, sodat data betyds aangepas word by die veranderinge wat in die areas opgemerk word.
Agri Wes-Kaap se leuse “Gevestig in Betroubaarheid,” was ook die onderwerp vir die oggend en het deurentyd in almal se toesprake voorgekom. (Deur Angelique Erasmus)
