Die ontwikkeling van die beplande winkelsentrum op die hoek van Langenhovenweg en Rademeyerstraat gaan steeds voort.
Walter Hendricks, Oudtshoorn se munisipale Bestuurder het die inligting aan Die Hoorn bevestig, nadat gerugte die rondte gedoen het dat die ontwikkeling nie meer gaan plaasvind nie.
Inwoners was ongelukkig, nadat daar verlede week ’n plasing op sosiale media was dat daar teen die ontwikkeling tydens ’n raadsvergadering gestem is.
“Na die raadsvergadering van 28 Februarie 2024 was daar uiteenlopende berigte en gerugte oor die impak wat dit op die sentrumontwikkeling kon hê, maar die situasie is intussen met die ontwikkelaar uitgeklaar en die ontwikkeling gaan voort,” het Hendricks gesê.
Oudtshoorn se uitvoerende Burgemeester, Chris Macpherson het beaam dat die ontwikkeling voortgaan.
“Na dringende onderhandelinge met die ontwikkelaar sedert Donderdag na afloop van die vergadering en die bevestiging van die munisipaliteit dat die munisipale rioolpyp wat oor die ontwikkelaar se grond loop op die koste van die munisipaliteit geskuif sal word, is daar Maandag, 4 Maart 2024, bevestig dat die ontwikkeling sal voortgaan.”
Hierdie is die grootste ontwikkeling wat nog in Oudtshoorn aangepak word en is van kardinale belang vir die dorp en sy inwoners,” het Macpherson aan Die Hoorn gesê.
Die rioolpyp wat oor die privaatgrond van die ontwikkeling loop, moet geskuif word voordat daar verder met die bou van die winkelsentrum kan voortgaan.
Dit moes egter uitgeklaar word wie vir die onkostes om die pyp te skuif moet betaal, die eienaar van die grond of die munisipaliteit.
Daar is besluit dat die munisipaliteit die koste daarvan moet dra, omdat die rioolpyp aan die munisipaliteit behoort.
Die Klein Karoo Markt inkopiesentrum, word deur Dorpstraat Ontwikkelaars beplan, en sal 38 winkels hê en ’n area van 13 000 m² beslaan.
Die nuwe winkels sal nie net nuwe werksgeleenthede skep vir plaaslike inwoners nie, maar dit ook geriefliker maak deur winkels te huisves wat tans net op George is.
Vlagskipwinkels soos Checkers, Woolworths, Dischem en Food Lovers Market stel reeds belang om in die sentrum oop te maak.
Volgens Dorpstraat se webtuiste beplan hul steeds om die sentrum teen April 2025 te voltooi. (Deur Angelique Erasmus)
Ontwikkeling gaan steeds voort
Die gebou op die hoek van Langenhovenweg en Rademeyerstraat is reeds gesloop, om plek te maak vir die nuwe inkopiesentrum, Klein Karoo Markt. Die sentrum sal teen April 2025 voltooi wees. Voordat bouwerk voortgesit word, moet daar egter eers ’n rioolpyp wat oor die privaatgrond loop, geskuif word. Foto Lindi Brill