
Ek het die narratief gelees oor Dawid en Goliat in 1 Samuel 17. In verse 55-58 het ek die volgende handeling opgemerk: Toe Saul vir Dawid sien uitgaan om die Filistyn te ontmoet, vra hy vir Abner, die hoof van die leër: “Abner, wie se kind is die jongman tog?” Abner het geantwoord en gesê: “So seker as u leef u majesteit, ek weet nie.” Die koning sê toe: “Vra jy tog wie se kind die jongman is.”
Toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom gevat en hom voor Saul gebring met die kop van die Filistyn nog steeds in sy hand. Saul het hom gevra: “Seun, wie se kind is jy?” “Die kind van U onderdaan, Isai uit Bethlehem,” het Dawid geantwoord.
Ek het myself betrap toe ek dink aan ’n opmerking uit die Bybel: “Kan daar nie iets goeds uit Nasaret gebore word nie?”
Nasaret, Bethlehem, Prins Albert, maak nie saak nie. Baie mense word op grond van hul afkoms of herkoms be-oordeel.
Ons bevind ons vandag in ’n samelewing waar mense jou in kampe wil plaas. Die samelewing wil bepaal wie en wat jy is. Hulle weeg jou, hulle meet jou en as hulle jou bepunt het, is jy vir ewig in die een of ander kategorie geplaas.
Dawid het geweet wie hy was en daarom kon hy sy afkoms onbeskaam aan Saul openbaar.
Ek het baie geworstel oor hoe ander bevolkingsgroepe ons – die nakomelinge van die eerste inheemse volkere – sien. Hoe onderskei hulle ons van ander kultuurgroepe? Hoe het die vroeëre koloniste ons bekyk en tot watter gevolgtrekking het hulle gekom?
Ek het myself dié vraag afgevra. Het hulle spesifiek die skoonheid en die onontdekte moontlikheid van die nuwe land raakgesien voordat hulle die eerste inheemse mense raakgesien het?
Ek het baie oor die optrede van hierdie vreemdelinge gewonder. Bedrieërs met selfsugtige bymotiewe?
Mense wat hulle eie voordeel gesoek het ten koste van ander mense? Ek sal altyd wonder oor dit wat in hulle koppe aangegaan het voordat hulle die nuwe land verower het.
Toe die vroeëre Europeërs in Suid-Afrika aangeland het, het hulle die eerste inheemse inwoners in die land gru welik onderskat. Hulle het hulleself beskou as die legitieme veroweraars oor die inheemse volkere. Hulle het die mense hul grond ontneem, en van hul godsdiens, kultuur en taal vervreem. Daar is minagtend neergesien op hul spiritualiteit en menswaardigheid.
Kulturele outoriteit is misken. Daar was geen respek vir die gewoontereg van Khoi-Khoi- en Sanmense nie en die groepsregte op inheemse kennis is ontheilig. Geestelike en morele waardes is ondermyn en sedelike beginsels is om verskeie persoonlike redes gering geskat.
Die goeie orde en bestaande waardestelsels is ondermyn en die waardigheid van inheemse mense is met paternalistiese gedienstigheid subtiel op Khoi-Khoi- en San-nasate afgedwing.
Die vroeëre koloniste het die beginsels van wat goed en reg is vir inheemse bewoners met kragdadige wetgewing uit ons gewoontestelsels verwyder; onder meer eerbied vir die natuur, eerbied teenoor diere en eerbied teenoor mense.
Ek worstel vandag nog oor hierdie een ding en iemand moet dit vir my verklaar.
Hoe sien die ander bevolkingsgroepe ons? Dink hulle regtig ons is so eenvoudig dat hulle ons met enige slenterslag ’n rat voor die oë kan draai? Is ons regtig so liggelowig of is dit hoe die koloniste gedink het voordat kolonisasie plaasgevind het?
Vandag onderskat mense ons steeds. Vreemdelinge uit ander lande en buurstate neem ons woonbuurte oor, ondertrouery vind plaas en ek sal altyd vra: Hoe sien ander bevolkingsgroepe ons, ons seuns en dogters? Wat antwoord ons as die mense navraag doen oor ons?
Die nasate van Khoi-Khoi- en San-afstammelinge beskik oor baie kwaliteite waarvan baie opgevoede mense min of weinig van weet.
Ingeskapenheid in die eerste plek. Dit wat te make het met die ingeskape deugde, drange en eienskappe wat onlosmaaklik deel is van ons opvoeding. Dit het vergestalt in ons gewoontereg.
Omdat die inheemse volkere en hul nasate vandag nog natuurkinders is, het die veroweraars destyds die mense as simpel, liggelowig en onnosel gesien. Daarom is hulle gruwelik benadeel, beroof en ondermyn.
Dit was inderdaad hoe die Engelse koloniste ons gesien het.