Tuinwater?
Ons tuin wat al pryse gewen het en waar daar dikwels troufoto’s ens geneem word, is tot niet, dit lyk soos ’n woestyn, daar is derduisende rande se struike, plante en arbeid daarmee heen.
Die water wat ons konsuis gratis van die munisipaliteit gekry het en ten duurste moes aanry, is nooit getoets nie en het veroorsaak dat 90% van ons duur roosbome gevrek het. Die ander is besig om te vrek. Daar is struike wat reeds dood is en ek sien groot, uitgegroeide bome begin ook doodgaan.
Ek is nie onredelik nie. Ek verstaan dat ons in die middel van ’n droogte is, maar ek verstaan ook ons damme is nie afhanklik van reënwater nie, maar wel van kapok op die Swartberge. Daar is ook ’n bewering dat ’n munisipale amptenaar foutiewelik een of ander kraan of klep oopgelos het en 40% van die dam se water verlore is?
Die vraag is: Gaan ons in Oudtshoorn ooit weer bekostigbare water hê om ons tuine mee te verfraai? Indien die weer normaliseer, gaan die astronomiese pryse afkom? Wat is die vooruitsig van watervoorsiening vir Oudtshoorn ?
Ek sal graag dat die munisipale bestuurder direk aan Die Hoorn antwoord dat ons belastingbetalers almal kan sien wat die waarheid is.
– Pieter Retief, Oudtshoorn
(Die antwoord van die Oudtshoorn Munisipaliteit volg onder)
Munisipaliteit antwoord
In reaksie op mnr Pieter Retief se brief, die volgende:
Die uitvloeisel vanaf die Oudtshoorn-rioolwerke moet aan die Departement van Waterwese se “algemene standaard” voldoen. Die standaard gee riglyne ten opsigte van wat die pH, ammoniak, opgeloste soute, ens mag wees. Uitvloeisel wat aan hierdie standaard voldoen, word as geskik geag vir algemene besproeiing.
Die uitvloeisel vanaf die Oudtshoorn-rioolwerke, wat tans gratis aan die publiek beskikbaar gestel word vir besproeiing, word maandeliks getoets en voldoen aan die standaard. Dit bly egter elke gebruiker van hierdie water se eie verantwoordelikheid om te verseker dat gewasse wat besproei word, nie sensitief vir die gesuiwerde rioolwater is nie. Die uitslae van die watertoetse kan op versoek aan gebruikers beskikbaar gestel word.
Wat die bron van water na ons damme betref: Ons damme is verseker afhanklik van reënwater. Dit kan duidelik gesien word met die styging in die damvlakke na ’n goeie reënbui in die opvangsgebied. Sneeu op die Swartberge vul die damme ook aan, maar nie met dieselfde intensiteit as goeie reënbuie nie. Sneeu op die berge help egter baie dat die toevoerriviere vir langer tye aanhou vloei. Reën en sneeu dra dus altwee by tot ons watervoorraad.
Die stelling ten opsigte van die ooplaat van ’n klep wat die damvlak met 40% laat daal het, is ongegrond.
Geen so ’n insident het in die onlangse verlede plaasgevind nie. Indien mnr Retief meer inligting het om die bewering te staaf, sal ons dit graag wil bekom om op te volg. Die bestuur van ons waterbron is vir ons van die uiterste belang en die stelsel word met valkoë dopgehou om te verseker sulke voorvalle vind nie plaas nie.
Die Raubenheimerdam se vlak staan tans op 39,02% in vergeleke met 30% verlede jaar hierdie tyd.
Die damvlak het redelik stabiel gebly tussen 39% en 40% vanaf Junie tot middel Augustus, maar het die laaste twee weke begin daal. Ons is hoopvol vir goeie lente reën in September 2019, maar moet ons voorberei vir die kans dat dit nie gebeur nie.
In daardie geval sal ons na verdere waterbesparings moet kyk. Intussen gaan die beplanning rondom die voorsiening van noodwater vanaf Blossoms voort. Ons verwag egter nie om water vanaf Blossoms beskikbaar te hê voor Oktober 2020 nie en ons sal baie mooi na ons dam moet omsien om ons deur die somer te kry.
Watertariewe is afhanklik van die stand van die dam. Alvorens die damvlak nie noemenswaardig begin styg nie, sal die tariewe nie verlaag kan word nie. Die tariefstruktuur kan via http://www.oudtshoorn.gov.za/ oudtshoorn-approves-drought-water-tariffs-and-saving-measures op die Oudtshoorn Munisipaliteit se webtuiste besigtig word.
– Chris Swart, senior bestuurder, water en riool
Vir die wat leerderbelange op die hart dra
As jy die radioprogram Ons en die Onderwys om 16:30 op 25 Augustus misgeloop het, gaan na RSG.co.za, klik op “Programme” en soek “Ons en die Onderwys”. Dit sal help om sport en ander kulturele bedrywighede ’n aanwins vir skole te maak en te verhoed dat dit die skool toksies kan maak.
Seënwense aan alle ouers, grootouers en leerkragte.
– Oud-leerkrag, Oudtshoorn