Hoe het dinge nie verander nie

DIT is die jaar 1973 – 49 jaar gelede om presies te wees. Om perspektief daaraan te gee – dit is die jaar waarin sakeman en ruimtevaarder Mark Shuttleworth, die welbekende krieketspeler Shaun Pollock en die onvergeetlike Springbokstut Ollie le Roux gebore is. Ek was toe 16 jaar oud en in standerd 9.

In Augustus van 1973 was ek, my broer en my pa in Las Vegas tydens ’n toer deur die VSA en Kanada. Hoekom onthou ek dit so duidelik? Twee dinge – die een is die fantastiese Grand Canyon daar naby. Die ander is dat Elvis Presley een aand wat ons daar was, ’n vertoning in die Las Vegas Hilton gehou het en van die mense in ons groep het daarna gaan kyk.

Ons het nie. As ek toe geweet het wat ek nou weet, sou ek dit vir niks gemis het nie. Die onbetwiste koning van Rock & Roll is presies vier dae minder as vier jaar later in Memphis, Tennes-see, oorlede. Soos dit byna tipies is van sulke supersterre se ekstreme lewens­wyses was sy dood die einde van ’n era.

Ongelukkig in ’n omstrede wolk van drankmisbruik en dwelms wat in ’n hart­­aanvaal geëindig het.

Ek en my broer het ons destyds verkyk aan die televisiestelle in die hotelle. In 1973 was TV iets wat jy hier by die huis in flieks en “comics” gesien het. Ons marionetmeesters hier in Suid-Afrika het dit goed gedink om die mense te weerhou van TV. Twee jaar later het die land darem “bygekom” en het ons TV gekry.

Soos baie ander dinge wat tydens my lewe verander het, was dit seker ook nie sonder eksterne invloed en druk nie!

Ek dink ons kon aanvanklik slegs vir twee ure ’n dag of so iets TV kyk. Hoogs onder beheer natuurlik. Ek was in die lugmag daardie tyd, maar kan ont­hou hoe almal verwoed televisie­stel-le gekoop het!

Een van die dinge wat ek spesifiek kan onthou, was dat die wisselkoers destyds toe ons op vakansie VSA toe is, R0,69 (ja, 69 sent!) vir ’n dollar was. Ek onthou baie goed dat dit verander het na 71 sent vir ’n dollar tydens ons toer en een van die omies so ewe opgemerk het dat “die rand besig is om sy gat te sien en niks werd word nie”.

Amerika was in die middel van die Watergate-skandaal se ondervragings wat natuurlik ’n jaar later tot Richard Nixon se geskiedkundige bedanking gelei het. Dit was nogal groot en ekstreem. Die skandaal het die nuus-kanale oorweldig. Dit was selfs groter as die groeiende teenstand teen die VSA se betrokkenheid in Viëtnam – selfs nadat ’n ooreenkoms in Frankryk onderteken is ingevolge waarvan die VSA militêre aktiwiteite in Viëtnam sou staak – wat so twee jaar later finaal tot ’n morsige einde gekom het.

Ons het met TAP gevlieg – die Portugese lugdiens – en het so ewe in Lua­nda in Angola geland vir brandstof op pad na Lissabon en daarna New York toe. Angola was toe nog (net-net) ’n “vriendelike” Portugese kolonie.

Binne ’n jaar of twee daarna sou dit in ’n lang burgeroorlog betrokke raak wat natuurlik tot ons “eie” uitgerekte grensoorlog in die noorde van die des­tydse Suidwes-Afrika gelei het.

Dit was maar baie “onder die radar”, maar Suid-Afrikaanse soldate en ons polisiemanne was toe reeds operasio­neel in Rhodesië betrokke. Rhodesië het destyds met sy eie versameling probleme gesukkel voor Bob Mugabe en sy bende uiteindelik die land oorgeneem en stelselmatig begin vernietig het. Suid-Afrika het die Rhodies na­- tuur­lik sterk ondersteun deur daardie moeilike tye.

Bietjie verder van die huis af het die vierde en grootste konflik tussen Israel en sy bure losgetrek met die aanval deur Egipte en Sirië op Israel tydens Yom Kippur – een van die heiligste dae op die Joodse kalender.

Die wêreld is daarna onderstebo ge-draai met die eerste keer dat olie in die Midde-Ooste as ekonomiese wapen gebruik is tydens die sogenaamde olie-embargo deur OPEC – en met enorme stygings in die olieprys daarna. Dinge was nog nooit weer dieselfde nie.

Suid-Afrika het in die 1970’s nog die Grand Prix op Kyalami aangebied. Dit was uitermate “cool” om dit by te woon. Dit voel soos ’n ewigheid ge­lede. ’n Ander lewe.

John Vorster was toe nog ons eerste minister en die Nasionale Party-re­ge-ring het moedig voortgestoom met sy tuislandbeleid.

So is Venda en Gazankulu in 1973 selfbeskikkingstatus gegee. Dit was so ’n gemaklike kwasi-onafhanklikheid sonder die verantwoordelikheid van waar die inkomste vandaan kom.

Volgens die regering was die Rooi Gevaar, die groot bedreiging, agter ons minerale en die seeroete om die Kaap aan en ons moes keer tot die laaste man. Korrupsie was grootliks onbekend.

Elvis is nou slegs ’n legende en in ’n groot mate onbekend aan vandag se jongmense. Sy nalatenskap is darem nog net so sterk soos altyd.

Die pragtige en eens hoogs produktiewe Rhodesië is tot niet in die vorm van ’n vertrapte Zimbabwe.
Suidwes-Afrika is nou Namibië (darem een goeie Uhuru-storie in Afrika).

Nixon, Vorster en die ander menere in beheer is almal al lankal oorlede.

Pollock en Ollie is nou helde van eergister en afgetree.

Mosambiek, Angola en Namibië is al donkiejare onafhanklike lande.

Korrupsie is nou ’n algemene verskynsel en die rege­ring is grootliks ho-peloos onbevoeg.

En jy betaal nou by die R15 vir ’n dollar…

En alles en almal is 49 jaar ouer. Ek ook. Ja nee, hoe het dinge nie verander nie…