Voorstelle vir Groter Oudtshoorn
As inwoner van die Groter Oudtshoorn sal ek graag die volgende lys versoeke en voorstelle wil maak om nie net Oudtshoorn nie, maar ook sy buurdorpe, te verbeter, en daarmee ook die lewens van elke inwoner van die omgewing:
• Waarskuwingstekens teen rommelstrooi, soos byvoorbeeld ’n boete van R5 000 of verpligte gemeenskapsdiens of gevangenisstraf van tot ses maande.
• Kennisgewingstekens vir motor-ryers ten opsigte van ons dorp se kinders met betrekking tot padveiligheid, soos byvoorbeeld “Ons is lief vir ons kinders! Wees versigtig”.
• Effektiewe opgradering van Oudtshoorn, Dysselsdorp en De Rust se strate en sypaadjies.
• Waarskuwingstekens ten opsigte van loslopende diere.
• ’n Munisipale elektroniese tellermasjien vir die gemeenskap van Oudts-hoorn, Dysselsdorp en De Rust.
• Meer effektiewe benutting van openbare sportterreine.
• Opgradering van Oudtshoorn, Dysselsdorp en De Rust se begraafplase, ten opsigte van vandalisme, en ook met meer beligting.
• Beperkte klank in desibel-volume vanaf 22:00 in ons woonbuurte.
• Bespaar elektrisiteit en water.
• ’n Vuurwerkvertoning elke Oujaarsaand omstreeks 00:00 / 24:00, elke jaar.
Oudtshoorniete staan saam! Ek is Oudtshoorn!
– Gustav Deelman, Oudtshoorn
Wie adviseer Oudtshoorn-raad?
Wie adviseer die Oudtshoorn-raad? Hulle het van die waarnemende munisipale bestuurder ontslae geraak deur ’n mosie van wantroue. Sulke mosies is net van toepassing op politieke ampsbekleërs (soos raadslede).
Om van die munisipale bestuurder ontslae te raak, moet die burgemeester ’n verslag met aanbevelings aan die raad voorlê.
Hierdie handeling van die raad gaan finansiele implikasies hê wat deur raadslede, en nie die raad nie, betaal moet word.
– Oudtshoorniet
Dat Donson nie dadelik vervang is nie, is vreemd
DIE koalisievennote met die ANC aan die voorpunt het nou deur middel van ’n mosie van wantroue raadslid Donson uit die onderburgemeesterstoel gelig.
Dit is vreemd en nie normaal dat daar nie onmiddellik weer iemand in sy pos aangestel is nie.
Die enigste rede kan wees dat die vennote nie ooreen kon kom oor wie hom moet opvolg nie.
Aan die een kant is daar OGI wat na die ANC vry vir dié posisie en aan die ander kant het die leier van die PA verklaar dat die PA net vir Leon Campher sal stem vir die posisie.
Wat nog verder lagwekkend aan die hele gedoente is, is die feit dat almal wat nou warm in die ANC-bed lê, deel vorm van ANC-instruksies uit die Kaap.
Tot nou is die enigste gebeurtenisse by die Oudtshoorn-raad dié woelinge oor posisies. Hoe op aarde kan amptenare onder sulke omstandighede produktief hul werk doen?
Te midde van die Oudtshoorn-wanorde is die MEC so stil soos die graf, terwyl wetgewing hom toelaat om in te gryp en die raad onder administrasie te plaas.
– Koelkop-politikus, Oudtshoorn