Deur Tania Smit
Deur al die jare van grootmaak, is daar een element van die lewe waarvoor ek besef ek nooit my kinders sal kan voorberei nie, en dis die element van afskeid. Daardie alomteenwoordige twee- ling wat homself so ongenaakbaar in mens se hart kom vasgrou deur die loop van die lewe van ons lywe.
Buiten vir die afskeid wat deur die dood van ’n geliefde kom, waarvan nie hier gepraat word nie omdat dit nie deur enige ander mens se woorde omskryf of ooit reggepraat kan word nie, praat ek van die afskeid van mense wat jy deur ’n vlakte van vernuwing of swaarkry moet verloor, afskeid van jou persepsies of verwagtinge, die afskeid van onskuld. Van hoe jy gedink het die lewe moes wees, mense moes optree, van jou grootword-idees oor wat mense of die wêreld jou skuld. En ook afskeid van geld of huise of ’n droom of loopbaan of selfs net ’n Kersfees soos mens dit altyd geken het.
Soms moet ’n hele vriendekring verander in die afskeid van ’n huwelik, soms ’n hele lewe van saamwees in die afskeid van ’n kind. En as mens weer sien, staan jy in ’n nuwe boek, ’n heel nuwe storie, jou hande nog vasgeklou om die storie in die blaaie van die vorige boek aan te hou skryf, met jou verbete hand van huil. Van wou hê. Van moes wees. Van kannie glo nie.
Dis makliker om in die hier te wil bly, of die gister, voor afskeid haar woorde in jou boek begin skryf het. Maar die realiteit sal altyd wees dat die vorentoe net sal kom in die dapper, en dat dapper gepraat word in die taal van die waarheid – die verbete taal van hoe dit is, in plaas van hoe dit moes wees, of hoe dit was.
So wat ek wel graag sou wou regkry, sou wees om my kinders te leer om dapper met die taal van hul eie hart om te gaan. Om te leer om hul eie waarheid in die oë te kan kyk, die taal daarvan in hul lywe te kan herken, en te besef dat die waarheid soms groter as die wens is.
Sodat hulle die waarheid van hul hart soos ’n kleed om hulle sal kan gooi. En met die een voet voor die ander, dapper en eerlik die loop van die lewe van hulle lywe en harte sal kan loop. Soms in die afskeid in, soms deur ’n hele vallei van seer, maar altyd weer verby die afskeid na die Lig toe. Waar almal wat reeds vooruit gegaan het, met trane van saamvoel en trotswees op hulle sal wag. © Hekelwoorde van my Hart