Briewe

Inwoners dorp se redders

’n Berig in Die Hoorn van 14 Februarie 2019 noop my om die pen op te neem.

Sedert die oorname van die huidige raad op 3 Augustus 2016 van ’n ban­krot en leeg gesteelde Oudtshoorn, lees ons konstant in die media van hoe goed dit met Oudtshoorn se finansies gaan. Die ouens in die Burgersentrum staan seker breëbors met ’n gloed op hul gesigte en baai in hul glorie, vermoed ek. Bestuur is mos bekwaam en verdien miljoenêr-salarisse.

Oudtshoorn het ’n baie pynlike en sleg emosionele politieke geskiedenis van wanadministrasie sedert 2011. Spesifiek was dit die Oudtshoorniete se spaarvarkie wat besteel is en steeds gedoen word deur onbillike tariewe en belasting.

Hier is my kommer/waarneming – die finansiële omdraaiplan van die dorp het teen ’n astronomiese duur prys gekom en die enigste verloorders was en is steeds die inwoners.

Nêrens in dié beriggewing lees ’n mens van inwoners se onbaatsugtige geduld en oorbelaste bydrae om die dorp reg te ruk nie. Die ouens gaan aan asof hulle die groot redders is.

Dorpsbestuur moet bietjie van hul “high horses” afklim en beslis duidelik kennis neem wie die eintlike redders van die dorp is: Die Inwoners, en hul swaar verdiende salarisse.

Die raad en spesifiek die inwoners moet kennis neem dat – teen wetgewing in – die inwoners die rekening van korrupsie betaal en nie die korruptes soos deur wetgewing vereis word nie.

Is dit moreel korrek? Beslis nie! En dis nie ek wat wetgewing uit my duim suig nie.

Terwyl die ouens spoggerig is oor hul whisky-bankrekening kry inwoners ’n papsak wyn se dienste – daarvan getuig die hoeveelste berig in Die Hoorn oor die rioolstorting in die Grobbelaarsrivier.

Hoekom word die skielike baie geld nie op dienste bestee nie? Of verlaag die tariewe en belastings.

Die DA is besig om ’n uiters gulde geleentheid op Oudtshoorn te laat glip om die DA-handelsmerk uit te bou. Hulle moet oppas, die kersie brand laag – ek weet. Glo my.

Die ouens moet ’n bietjie nederig raak oor die finansiële situasie. Trots het ’n manier om hard te val.
– André Barnard, Oudtshoorn

So word ons dorp bestuur

Op 2 Julie 2009 word die woning op erf 15601 Oudtshoorn toegeken aan ’n inwoner.

Tot en met hierdie brief is die wo­-ning nog nie aan die inwoner oorhandig nie.

Vanaf die datum waarop die woning klaar gebou is, het plakkers dit eenvoudig beset.

Op 12 Januarie 2017 word daar navraag gedoen oor wat die munisipaliteit gaan doen. Geen antwoord word vanaf die munisipale bestuurder ontvang nie.

Op 13 Februarie 2018 vra die raad se prokureurs in ’n skrywe ’n bewys dat die woning aan die inwoner toegeken is. Dit word gedoen.

Op 28 Februarie 2018 word weer navraag gedoen en op 14 Maart weer. Op 14 Mei antwoord die prokureurs dat die munisipaliteit “as gevolg van omstandighede buite hul beheer nie in staat is om eiendom oor te dra nie” en dat die munisipaliteit in die proses is om nuwe oordragsprokureurs aan te stel. En dat die inwoners sal moet wag tot die proses gefinaliseer is. Skokkend.

Op 14 Mei 2018 word weer ’n skrywe gerig en gevra vir die tydsduur vir die aanstelling van die “nuwe oordragsprokureur”. Geen antwoord word ontvang nie. Plakkers bly steeds in ’n huis wat toegeken is aan

’n inwoner wat daarvoor kwalifiseer.

Maar dan, die groot grap: op 26 Maart 2018 word ’n rekening gestuur aan die “inwoners” van die woning (die plakkers) dat hulle R19653,00 verskuldig is vir water, riool en belasting.

My voorspelling is dat daardie geld nóóit verhaal sal word nie en dat die bedrag seker nou al naby R25000 is.

Nou gaan verwag word dat die gereelde belastingbetalers die gemors wat veroorsaak is deur swak beplanning en administrasie, moet betaal. Ek wil my verstout om te sê dat daar honderde huise is wat sulke bedrae verskuldig is, want ek het self gesien in oordragte wat ek doen dat tot R60 000 per huis uitstaande was.

My vraag is nou: wie kontroleer dié aspekte? Wie kan voor stok gekry word vir sulke versuim om hulle werk te doen.

Ek daag die munisipaliteit uit om aan die gemeenskap van Oudtshoorn ’n antwoord in Die Hoorn te verskaf.
– AJ Wagener, Oudtshoorn

Meer beheer op paaie tussen dorpe

Die vakansieseisoen is verby en weer was dit ’n slagting op die land se paaie. Dronkbestuur, spoed, onpadwaardige voertuie, vals rybewyse, was weer soos in die verlede die grootste oorsaak.

Nou is daar sprake dat houers van rybewyse elke vyf jaar getoets moet word. Dit is seker nie ’n slegte idee nie, maar is dit moontlik en wie gaan dit doen?

Die druk op lisensiekantore is alreeds so groot; kyk maar na die lang toue mense wat daagliks daar staan.
Ek dink soos waar sigbare polisiëring ’n verandering aan misdaadverwante gevalle maak, dit ook moontlik is by die vermindering van padoortredings.

Ek ry dikwels tussen De Rust en Oudtshoorn, maar bitter min sien jy ’n verkeersvoertuig op die pad.

Kom jy in Oudtshoorn, ry verkeersvoertuie op en af in die strate en die wat nie ry nie, skryf boetes uit vir voertuie wat op ’n geel streep staan. Dis egter nie waar ernstige oortredings plaasvind nie – dis op die pad. Dis waar die wetstoepassing moet wees, nie net seisoentyd nie.
– Albert Schoeman, De Rust
(Net vir duidelikheid: Die provinsiale verkeersdienste is verantwoordelik vir beheer op provinsiale paaie, soos tus­sen Oudtshoorn en De Rust, en die munisipale verkeersdienste vir beheer op die paaie binne die dorp. – Redakteur)