Die vierde en laaste volstruispaleis wat geval het was Glenara, in Oudtshoorn.
En ek moet bely dat ek bitter min daarvan weet. Om die een of ander rede is die geskiedenis van Glenara nie baie goed opgeteken nie.
Die huis self het nie dieselfde aandag geniet as die ander nie, bepaald omdat dit soveel meer sober en dalk minder indrukwekkend was.
Dat dit ’n weelderige woning met ’n magdom vertrekke voorsien van ongekende luukses vir die tyd was, is egter seker. Verskillende bronne het my vertel dat Glenara gebou is deur ’n ryk Joodse verehandelaar, terwyl iemand anders my vertel het dat dit behoort het aan ene McNight, ’n regsgeleerde. Laasgenoemde klink vir my logies, omdat die McKnights van Skotland in die 16e eeu ook die “Lairds of Glenara” was.
Na die val van die volstruisveerjare het Glenara die gang gegaan van vele sulke wonings – dit het verwaarloos en vervalle geraak. Gedurende die Depressiejare was dit ’n losieshuis totdat die destydse Unie Departement van Onderwys (UDE) dit gekoop het as meisiekoshuis vir die Hoër Meisieskool.
Hiervandaan het Glenara se pad enduit nou vervleg geloop met dié van die skool.
Die skool het gestaan waar die Polisiestasie vandag staan. Die tweede helfte van die jare sestig was ’n tyd van ekonomiese vooruitgang vir Suid-Afrika. Die euforie van Republiekwording en, destyds nog, internasionale aansien, het ’n gevoel van “nuwe begin” by mense aangewakker.
Oudtshoorn wou ’n splinternuwe, moderne skool hê. En ’n splinternuwe moderne polisiestasie met moderne enkelkwartiere.
In hierdie proses is The Towers, die Meisiekool en Glenara almal in dieselfde jaar (1967) gesloop.
Die erf waarop Glenara gestaan het sou die plek wees vir die nuwe enkel-kwartiere van die polisie – ’n mo-derne, tweeverdieping woonstel- kompleks.
Dit is nooit gebou nie. Net die twee palmbome wat eens langs Glenara gestaan het, bly vandag oor.
Die indrukwekkende fasade van die meisieskool met sy halfronde gewelf bo die ingang was die laaste wat bly staan het.
Een Oudtshoorniet het darem verder gedink en die klippe van daardie fasade met ’n beitel genommer van 1 tot by 1 042.
Hierdie klippe is na die kelder van die CP Nel Museum geneem, omdat daar sprake was dat die fasade daar herbou sou word. Dit het ook nooit gebeur nie.
Na 1996 se eerste KKNK is die klippe verwyder na ’n stoorruimte by die ou Spoorwegstasie sodat ’n kelderkroeg onder die museum ingerig kon word. (Dit kon vroeër ook gewees het, maar teen 1997 was die klippe nie meer daar nie).
Ek het rondom 2001 ’n paar Oudts-hoorniete genooi vir ’n gesprek met die oog daarop om die fasade te herbou. Daar was groot opwinding vir die plan en selfs ’n rubriek in Die Hoorn van 21 Maart 2002.
En toe ry ek spoorwegstasie toe om die klippe te gaan soek. Van die 1042 klippe kon ek nommer 13, 802 en 991 kry. Die res is oor die jare weggery om heinings en braaiplekke mee te bou en die venster- en deurrame het iewers nuwe gebruik gevind.
Glenara, die Meisieskool – saam het hulle die laaste fase van hulle leeftyd binnegegaan, en saam deel van herinneringe geword totdat ons vandag nog net een of twee verbleikte ou foto’s van hierdie twee statige ou dames het.
Tog hoop ek al die jare nog dat iemand wat onthou my meer van Glenara sou kon vertel.
As jy meer inligting oor Glenara het, kontak gerus Die Hoorn of stuur ’n epos na redaksie@hoorn.co.za. Onder is die rubriek wat in 2002 in Die Hoorn verskyn het. (Deur Daniel Lötter)


Bo: Glenara soos dit gelyk het voordat dit verander en as meisiekoshuis vir die Hoër Meisieskool gebruik is. Slegs die twee Palmbome is oor in Baron van Reedestraat vandag tussen Gotlandhuis en die ou Standardbank gebou in Kerkstraat. Foto: Facebook

Bo: Glenara nadat dit verander en as meisiekoshuis vir die Hoër Meisieskool gebruik is. Die fasade se stene was met die sloop van die gebou in 1967, uitgebytel en genommer vanaf 1 tot 1 042. In 1997 was daar slegs 3 stene oor. Nommers 13, 802 en 991. Wat van die res van die stene geword het nadat dit na die stasie geskuif is, weet niemand nie. As jou sandsteen muur of braai dalk genommer is, is dit moontlik dat dit deel van die Glenara volstruispaleis is, en het jy ’n stukkie geskiedenis van Oudtshoorn op jou erf of in jou huis. Foto: Facebook

Bo: Die kaart dui Glenara se posisie aan. Foto: Facebook