Daar word die laaste tyd baie oor twee vakansieoorde in ons omgewing gepraat – De Hoek en die Calitzdorp Spa, asook oor voorstelle wat aan die distriksmunisipaliteit gemaak is vir die omvangryke ontwikkeling van die twee oorde deur ’n
buitelandse maatskappy, iets wat die wind van voor kry het uit verskeie gemeenskappe. Poem Mooney, hoofman van die Attakwas, deel hier sy gedagtes oor erfenisbakens en die gebruik van grond, sonder benadeling van regte.
De Hoek en Warmbad – waar die Calitzdorp Spa geleë is, is beide kul- tuurhistoriese erfenisbakens binne die Attakwa-stamgebied.
(As ons praat van die Attakwa-stamvolk, praat ons van ’n kulturele eenheid.)
De Hoek is tussen die voetheuwels van die Swartberge in die Kangovallei geleë.
Kango is ’n Khoi-woord wat “plek van baie water” beteken.
Warmbad (die Calitzdorp Spa-omgewing) se gebied is bekend vir die bekende warmbronne – Warmwaterberg en Toorwaterspoort, almal Khoi- en San-erfenisbakens.
Daar is voorts ook ’n wettige grondeis op die grond geregistreer deur fa-milielede van diegene wat vroeër daar gewoon het.
Daar het onlangs in Die Hoorn ’n artikel verskyn oor ’n instansie wat die bogenoemde plekke wil huur vir 50 jaar.
Dit was die eerste keer dat dié voorstel tot ons ore gekom het, nadat daar blykbaar lankal daaroor gesprekke gevoer is.
Hoe strook dit met munisipale wetgewing?
Sal die instansie ook die grond teruggee na 50 jaar? (Dan is die grond en die geboue wat opgerig is, mos hulle s’n?)
Wat het geword van nege jaar- en elf jaar-huurooreenkomste?
Ongelukkig is die mense wat die grond wil huur, buitelanders ten koste van die mense van die omgewing; na my mening ’n nuwe inval met permanente besetting tot gevolg.
Dit laat my dink aan vaandrig Isaac Schrijver* wat deur die Attakwaskloof deurgeworstel het op die Olifantsvoetslaanpad en op Vrydag 28 Januarie 1689 Attakwaland binnegekom het.
Ek wed die leser dat munisipale amptenare en hoofde van direktorate oor die jare seker al baie grond weggegee of weggeteken het – en in dié proses ons eie mense daardeur weggehou het.
Ek was oor die jare al betrokke by baie aansoeke om grond namens onder meer die Khoi Memory-projek.
Ons het na aanleiding van advertensies in die George Herald in 2012 ook aansoek gedoen by onder meer
De Hoek en Warmbad omdat dit Khoi-erfenisgrond is.
Die aansoeke was nie suksesvol nie.
Ongelukkig het ek oor die jare tot die gevolgtrekking gekom dat verskeie amptenare in munisipaliteite vir hulleself hul eie ivoortorings gebou het, waar die stert die hond swaai, en dit sê ek sonder benadeling van regte.
Onder diesulkes sal die bemagtiging van Khoi-Khoi- en Sanmense nooit gedy nie.
Met ander woorde, swart bemagtiging is uit.
Op ’n baie persoonlike vlak.
Ek worstel al lank om Poem se Voetrus, ’n stuk grond wat ek vir ’n skamele vyf jaar kon huur, terug te kry. Hierdie manier van doen deur die munisipaliteit verg ’n indringende ondersoek.
Ek het ook bewyse van verskeie aansoeke wat ek gedoen het om landbougrond van die munisipaliteit te huur; ongelukkig in my eie naam vir die Attakwa Khoi-organisasie omdat die genoemde amptenary klaarblyklik lugtig is om hul ware voorgeslagte te erken.
Oor die jare het ek egter al geleer – binne munisipaliteite sit daar baie mense wat jou skrywes sal ignoreer.
En ek het ook geleer: Daar is altyd ’n beswaar.
* Meer oor Isaac Schrijver: Hy was die eerste kolonialis wat die Attakwastreek binnegekom het.
Vaandrig is sy rang. Volgens Wikipedia het veral die leiers van verkenningstogte na die binneland tydens die regeringsperiode van die VOC aan die Kaap die titel vaandrig gehad.