

Inwoners van Oudtshoorn Saterdag besig om die voetbrug in Jan van Riebeeckweg te versier. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
VAN ’n doodgewone voetbrug oor Langenhovenweg tot ’n kleurryke spogbrug!
Dit is die gedaanteverwisseling wat die voetbrug by die Oudtshoorn Vaardigheidskool Saterdag ondergaan het toe ’n groot groep inwoners dit met hekel- en breiwerk gewolbom het.
Die brug is die vlagskipprojek van die Oudtshoorn ReWOLusie wat tydens die KKNK afgeskop het, en wil meer mense bewus maak van die projek sodat meer inwoners betrokke kan raak en meer wol geskenk kan word.
“Dis ’n klein deel van ’n baie groter plan,” sê Madeleine Miles, inisieerder van die projek.
“Die ReWOLusie beoog om volgende jaar tydens die KKNK 2020 bome te wolbom. Al die breiwerk sal na die tyd in komberse omskep word vir die 67 blankets-projek en in ons eie gemeenskap versprei word.”
Die projek, wat daarna streef om die Oudtshoorn-gemeenskap te laat saamwerk en bymekaar te bring, het presies dit Saterdag reggekry toe ’n klomp ekstra inwoners wat nie kan hekel of brei nie, saam gehelp het om die brei- en hekelwerk op te sit.
Al die werkers is boonop ook verras met heerlike kolwyntjies wat die Vaardigheidskool se leerders gebak het om dankie te sê vir die mooimaak van hulle brug.
Miles sê diegene wat reeds betrokke is by die ReWOLusie beoog om by verskeie geleenthede hul vaardighede oor te dra aan ander wat wil leer.
“Ons beplan sessies by verskeie instansies, onder meer die Vaardigheidskool, waar ons leerders gaan leer brei en hekel.”
Gaan kyk gerus na die kleurvolle brug as jy op Oudtshoorn woon of slegs op besoek hier is en deur die dorp ry!