Drie dansers skitter

Voor hul hotel in Dallas: Marne de Wit, Ian de Wit en Nicay Jackson.  Foto: Verskaf, Pro Academy

Deur Marlene Malan
Drie tienerdansers wat op Oudts­hoorn skoolgaan, het onlangs uitste­kend gevaar in ’n internasionale talentkompetisie in Amerika.

Ian de Wit (17) en sy suster, Marné (13) van Prins Albert, maar leerders aan Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, asook Nicay Jackson (14) van die Hoërskool Oudtshoorn het Suid-Afrika se naam hooggehou by die Model and Talent Expo wat einde Junie in Dallas, Texas, plaasgevind het.

Hulle het hul slag gewys in onder andere dans, modelwerk en drama. Al drie is leerders van Nadia du Preez se Pro Academy op Oudtshoorn by wie hulle al sowat vyf jaar klasloop.
Ian, in graad 11, het eerste gekom in die afdeling kommersiële loopplank-modelwerk en derde in die tienerafdeling vir dans. Marné en Nicay het onderskeidelik eerste en tweede gekom in die junior dans­afdeling,

Vir die “showcase” of gesamentlike talentvertoning by die Expo is drie dansitems gekies: Hier het die Suid-Afrikaners as trio die geleent­heid geopen, met Ian en Marné wat daarna as duo gedans het.

Volgens Anneline de Wit, Ian en Marné se ma, is die terugvoer wat hulle van die beoordelaars gekry het dat hulle baie beïndruk was met die drie se talent “en dat hulle onder geen omstandighede moet ophou dans nie. Hulle sê ons kinders se styl is iets nuuts. Hulle is ook aangemoedig om voort te gaan met modelwerk en Ian met sy toneelspel.”

Du Preez het aan Die Hoorn gesê sy is trots op haar drie pligsgetroue leerders.

“Maar dit kom van twee kante af – dié drie werk baie hard en Pro Aca­demy sorg vir die geleenthede. Dis ’n wen-wen-situasie.”

Anneline, wat saam met haar man, André, by Prins Albert boer, vertel Ian wou dans nog voordat hy kon loop.

“Musiek is in sy kop en is ’n totale passie. Hy sou graag skoolsport wou doen, maar ongelukkig het hy net sewe persent-sig in sy linkeroog, wat balsport bemoeilik.  Marné het begin dans toe sy sien hoe Ian dit geniet.”

Ian en Marné het in 2015 en 2016 aan die nasionale aanbieding van die SASAFF (South African Sports and Aerobics Fitness Federation) deelgeneem en hul WP-kleure ontvang.  In 2016 het hulle ook aan COPA (Championship of  Performing Arts) deelgeneem, waar hulle gekies is om saam met die Suid-Afrikaanse span na Los Angeles te gaan. In 2018 het hulle aan die Suid-Afrikaanse Talent­kampioenskap (SATCH) deelgeneem, waar Ian en Marné platinum met hul duo-vertoning gekry het. Ian het goud en silwer vir solo’s gekry.

Ian is volgende jaar in matriek en sê hy is nog onseker oor sy toekomsplanne. Sy passie vir dans wil hy egter bly uitleef.

Volgens Anneline beoefen haar kinders ’n verskeidenheid dansstyle, hoewel hip-hop tans hul voorkeur is.

“Dans bied ’n gesonde, gebalan­seer­de lewe. Hul selfvertroue raak ster­ker, hulle leer spanwerk en dissi­pline.

“Dit leer hulle ook om nie sommer net op te hou as jy iets nie regkry nie, maar aan te hou.”