Coen Basson blink uit in skryfkompetisie

Coen Basson.  Foto: Die Hoorn

Deur Liesel le Roux
’N FINANSIëLE adviseur van Oudts­hoorn, Coen Basson, het weer getoon dat hy met woorde kan toor deur te midde van stywe kompetisie ’n derde plek te behaal in die Bloemfontein Skrywers­vereniging se jaarlikse skryfkompetisie. Basson het meegeding in die gedugte afdeling vir gepubliseerde skrywers.

Meer as 1 000 inskrywings is in dié afdeling ontvang.

Basson se weninskrywing was ’n kort­verhaal met die titel Droogte, iets wat inderdaad nie ’n vreemde ervaring is vir ’n inwoner van die Klein Karoo nie.

Kortverhale van Basson het reeds in die 2018 Woordfeesbundel van die Universiteit Stellenbosch (US) verskyn, in vo­ri­ge publikasies van die Bloemfontein Skry­wersvereniging en het by die ATKV se Winterskryfskool in Potchefstroom erkenning gekry.

“Ek hou van skryf. Ek verlang terug na my Afrikaans-skoolhoudae in die plat Vry­staat. Met ’n storievertel-pa soos ek gehad het, kan dit nie anders nie,” vertel Basson.

“Hy het vir my elke Sondag uit die Kammanassie met sy Parker-vulpen in groen Parker-ink ’n brief geskryf na die universiteitskoshuis in Bloemfontein. In die possak met die rooi bus. En geen twee van daardie briewe het ooit dieselfde geklink nie. Ek onthou sy beskrywing hoe die oggenddoudruppels aan die draadheining klou. Volgens Pa, in elke druppel, soos die son opkom, ’n reënbogie.”

Die wenverhale sal in Augustus gepubliseer word in die bundel met al die bekroonde inskrywings, Inkvars 2019.

Basson is ook die sameroeper van Klein Karoo Skryf, ’n inisiatief om skryftalent in die Klein Karoo te ontdek.