En dan begin die replay weer van voor af

Deur Tania Smit

Deur Tania Smit

Ek het vanoggend op die skaal geklim, en met ’n grusame donderslag besef dat my lyf nou offisieel uit meer kilogramme as breinselle bestaan. En dis winter, en donners koud, so ek floreer op melkkos en sop-met-brood en lekker sjerrie voor die kaggel en hoenderkerrie met naan-brood, tzatsiki en basmatirys.

So van skrik sal ek vanaand vir my maar ’n vaal deurskynende soppie maak, en ’n koue sodawater drink terwyl my vervlegtes hulself bewarm met ’n verouderde Pinotage uit ’n goue label-bottel. En terwyl hulle Jan Ellis-poeding eet, sal ek aan die agterkwart van ’n verslae mango herkou, en my verbeel ek voel hoe my bobene krimp en my enkels hande klap.

En môreoggend sal ek met voortvarende entoesiasme uit die bed op die skaal spring, en sien ek weeg nou 500 g meer … en dadelik die naaste twee beskuite gryp en verorber. Met melkkoffie. En hoor hoe die skare in my brein sug van teleurstelling…

En dan begin die replay weer van voor af.

Om groter as jou wilskrag te wees is nie kinderspeletjies nie, want jy en almal onthou jou mooi. En jou vinnig. En daai aandrok.

En swem in die see. En daai sak maer klere wat al vrot gewag is vir suurstof, maar wag sal daai sak wag. Want eendag is eendag.

En oormôre sal ek my verbeel as ek net ’n trainer kry, sal my boude weer in my graad 12 Levi’s pas. En met ’n vasbyt begin.

Maar dan gryp ek oormôre­aand weer die lekkerste varktjop en besluit die dag daarna sal ek heeldag net organiese spinasieblare kou. En lou suurlemoenwater drink.

Om die saak te verbeter sal ek teen die volgende oggend voor mossiepoep my onfikse tekkies by die voordeur uitsteek, en met ’n gevriesde neus en pynende ore die verlate strate bewandel, en met ys-stallagtiete wat uit my oë uit groei die ryp op Oudtshoorn se gras­perke bewonder. En dan by ons koffie­groepie kom, en daai cuppaccino be- ­­spring soos ’n maer lyf na ’n ma­rathon.

En dan begin die replay weer van voor af.

En so bly ek daai hamster op die wiel, met elke intensie om af te spring, maar vasgevang in jare se slegte ge­woontes en lekkerkry.

Altyd verslae besig om die stuurwiel by my emosies te probeer afstoei, maar helaas aan die einde van die dag altyd die wenner van ’n heerlike bord kos en goeie geselskap. En instant gratification.

En dan begin die replay weer van voor af.