Ek wil baie graag besin

Deur Poem Mooney

Ek wil baie graag besin oor die volgende gedagte: Wanneer ’n dorp sy siel verloor; in besonder wanneer die “geld­god” die oë van die stadsvaders ver­blind.

Ek wil ook verwys na Psalm 137; met spesifieke verwysing na die opskrif: Hoe kan ons ’n lied van die Here sing in ’n vreemde land, of wil ons liewer sê “straat”?

En ten slotte wil ek praat oor die uitdrukking: Soos jy jou bed maak, so sal jy gaan slaap.
Ek het diep gaan nadink oor die eerste gedagte: Wanneer ’n dorp sy siel verloor.

Natuurlik sal daar weer ’n klomp mense hande in die lug gooi. Mense wat wil weet wat bedoel word met so ’n gewaagde uiting. Of ’n vraag soos die een vra: Wie gee jou die reg om ’n suggestie te maak sonder om dit te verklaar?

Almal wat my ken, sal weet dat ek nie ’n man is wat sketse maak sonder byskrifte nie. Ek sal nie oor goed praat wat ek by ander mense gehoor het nie, maar liewer oor dinge wat ek self ervaar het, beleef het.

So, my antwoord lê opgesluit in die begrip: siel. Die siel van ons pragtige dorp, Oudtshoorn. Ek wil reguit praat. Waarom wil ons ’n dorp soos Oudts­hoorn sy siel belet?

Verlede Donderdag (7 Julie 2022) het ek in Hoogstraat afgestap. Dit was ’n wandeling wat my meer ontstig het as wat dit my siel goed gedoen het, omdat Hoogstraat eens op ’n tyd die siel van ons middedorp was.

Dit was die eens mooie straat waar die mense van die middedorp, Vaaldraai, Noord-Einde, Brakstraat en Wesbank se kinders en hul ouers saans window shopping gaan doen het in pragtige, verligte winkelsentrums.

Dit was nog lank voordat “geld” die siel van alles geword het en nog baie lank voordat Hoogstraat in die hande van vreemdelinge beland het.

Dit was baie lank gelede, voordat selfsug toegelaat het dat ons dorp se geldbaronne gesteier het voor die aanslag van ’n selfsugtige “geldgod”.

Ek praat van ’n tyd toe ons in Oxfordstraat gebly het. Om presies te wees, Oxfordstraat 40.

Dit was omtrent drie strate vanaf Hoogstraat, Oxfordstraat, St George­’s­straat, Adderleystraat en dan Hoog­straat, met banke soos Volkskas, Saambou, Trustbank, Boland Bank (nou Nedbank) en Eerste Nasionale Bank.

Dit was toe Oudtshoorn nog die siel van Oudtshoorn vasgehou het in die kluis van die die middedorp.

Toe het die dorp nog soos volg gelyk – ’n straat met glansgeboue soos Nunes Elektries op die hoek van Hoog- en Kerkstraat, twee wonderlike apteke, Victor Aschruan en Du Toit, Leadermans, JD Jones, Browns Fisheries, ABC Bazaars, die Central Hotel, Wholesale Retailers, die Waldorf Café, die Imperial Hotel, die Gaiety Theatre, ons bioskoop in die Hoogstraat, CP Nel Vulstasie, Mike du Plessis se musiekwinkel, Wilhelmpie se winkel en dan die Suikerbossie Kafee van Ned Skelley op die hoek van Voortrekkerweg en Hoogstraat.

Die meeste mense wat in hierdie strate gewoon het, is nadelig geraak deur die gedwonge verskuiwings.

Ek wil myself die stoute skoene aantrek deur ’n onskuldige vraag te vra, naamlik: Was daar ooit openbare deelname voordat ons moes steier voor die wrede aanslag van ’n “geldgod” wat ons gemeenskappie uitmekaar geskeur het? Verarm en leeg gelaat het. Wie het die vreemdelinge in ons poorte toegelaat? Weet die stadsvaders iets hiervan, weet hulle, die stadsvaders, hoe hierdie vreemdelinge Bridgton geïnfiltreer het?

Dit is hier waar Psalm 137 vers 4 ingeskop het. Hoe kan ons ’n lied van die Here sing in ’n vreemde dorp, ’n vreemde sentrale sakekern, ’n vreemde straat?

Ek moet erken, ons dorp is vuil, die geboue in ons dorp is onversorg. As ’n straat vuil is, wil ek nie langer in so ’n straat afstap nie. As ’n winkel vuil en donker is, koop ek nie daar nie.

Miskien moet ek ’n onskuldige vraag vra: Waar bank die vreemdelinge? Hoe dra hulle by tot die ekonomiese voorspoed van ons dorp? Belê hulle in ons dorp? Hoe en waar?

Ek glo nie ons kan ’n Sionslied sing onder hierdie omstandighede nie. Is hier­die mense die oorsaak dat ons kin­ders nie meer droom nie? En die geestelike en sedelike verval, waaraan is dit te wyte?

Miskien ’n laaste en onskuldige vraag aan ons stadsvaders: Het Hoog­straat regtig die buitewyke van ons dorp geword en deur wie se toedoen?

Waar koop die bruinmense? Is hulle vandag nog deel van die ekonomiese voorspoed van ons dorp, en die vreemdelinge?

Wanneer sal die oë van ons stads­vaders oopgaan? Dit bring my by die uitdrukking: Soos jy jou bed opmaak, so sal jy daarin gaan slaap.

Naskrif: Volgende keer wil ek skryf oor al die bruin sakemanne uit Oudts­hoorn se veelbewoë geskiedenis.