DIE jagskoue in die VSA is maar ’n uitmergelende besigheid as jy daar gaan uitstal en jou jagsafari’s bemark – om van duur nie eers te praat nie! Vroeg elke Januarie is ons hier weg na Reno, Nevada, gewapen met brosjures, pryslyste en allerlei interessante brokkies bemarkingsmateriaal. Dit is waar die jaarlikse Safari Club International se vierdag-jagskou gehou is.
Dit is later jare tussen Las Vegas en Reno afgewissel. Selfde poeding; ander sous. Beide beroemde dobbelstede.
Ek onthou dit het 34 uur geneem vandat jy by die huis uitloop totdat jy op Reno by die lughawe uitstap. Dit is ’n lang reis en jy is deurmekaar van moegheid as jy uiteindelik by jou hotelkamer instrompel. Die volgende dag is dit ’n opstellery en rondgehardloop om alles gereed te kry vir die hordes wat die volgende paar dae die reuse uitstal-areas kom besoek. Ons mense hier verstaan nie die reuse-skaal waarop dit daar gedoen word nie.
Dit was harde werk, maar lekker om jagsafari’s in Mosambiek en Suid- Afrika daar te bemark. Daar is ’n paar groepe besoekers wat by jou stalletjie in- kom wat jy naderhand goed ken. Baie van die manne sou dit nooit in der ewigheid kon bekostig nie en het hulle kom uitleef by die skou. Hulle passie was egter daar. Jy laat hulle maar begaan, want jy weet nooit wanneer daar ’n vriend is wat dalk gaan “byt” nie.
Dan is daar ook groepe wat voorbereid daar aankom. Hulle het reeds baie opgelees en jy gesels sommer lekker met hulle. Ons het eienaardig genoeg nie baie besprekings op die skou vasgemaak nie, maar meesal kort daarna. Hier groep is egter die potensiële kliënte – en wanneer die “laaste groep” saam met hulle by jou stalletjie opdaag, is jy amper verseker van ’n bespreking.
Die “laaste groep” is die ouens wat al by jou was en kan bevestig dat alles wat ons sê, die waaarheid is. Soms dik hulle so ’n bietjie aan. Natuurlik met die gewenste uitwerking. Dit is soos ’n lewende verwysing en jy kan maar net staan en glimlag terwyl die interaksie voor jou afspeel.
Meeste van die manne neem hulle grootwild-jagsafari’s baie ernstig op en dit is baie keer die droom van ’n leeftyd wat uitgeleef word. Ons het altyd baie moeite gedoen om dit so onvergeetlik as moontlik te maak. Die prys van so ’n safari het verseker dat net die werklik toegewyde jagters ons kom besoek het.
As jy so ’n jagter ontmoet wat al in Afrika was, en hy vertel jou wat hy gesien en gedoen het, moet jy net stilbly en sy oë dophou wanneer hy praat. Want hy sal jou nie raaksien nie. Sy oë sien helderrooi sonsopkomste en sagte pers sonsondergange soos jy jouself nie kan voorstel nie, en ’n wêreld en ’n leefwyse wat ongelukkig vinnig besig is om te verdwyn. En hy sal jou altyd vertel hoe hy van plan is om weer terug te gaan.
Die wildernis van Oos-Afrika het ’n magiese en outydse gevoel by die jagters ontketen. Dit was behoorlik asof die ouens kon teruggaan na die amper vergete goue era van grootwildsafari’s en avontuur in ’n ongerepte omgewing sonder paaie en hoë wildheinings.
’n Jagsafari in die oorspronklike bos van Afrika waar reuse-troppe buffels nog wild rondloop, is spesiaal en van die jagters ervaar dit met intense emosie. Omdat jy saam met hulle deur die ervaring gaan, word julle baie goeie vriende, en bly julle jare daarna nog in kontak met mekaar, en praat julle oor en oor oor dieselfde oomblikke en ervarings. Julle ruil foto’s uit en as alles goed gaan, sien julle mekaar weer in Reno. Van daardie ontmoetings is nogal emosioneel – ’n bewys hoe diepgaande die ervaring in die kamp en die jagveld op safari is.
Ons jagarea was een van vyf soortgelyke aangrensende jagkonsessies waar die Zambezirivier aan die noorde en die Indiese oseaan aan die ooste die meer as 1 000 000 hektaar se wildernisgebied as’t ware op die kaart vashou.
Soos die lewe maar is, moet jy gedurig groet. Ons moes jaarliks talle vriende groet wat huis toe is. Uiteindelik moes ons Mosambiek en die klomp manne wat vir ons gewerk het, groet toe die jagregte nie weer aan ons toegeken is nie. Dit was emosioneel ’n baie tawwe tyd. Ek moes vanjaar my ou vriend in Mosambiek – Alberto Magaia – groet toe hy net na ’n groot operasie oorlede is. Gelukkig het ons vier dae voor die tyd (op sy verjaardag) ’n lang telefoniese gesprek gehad. Sy dood was simbolies werklik die einde van ’n era.
Hulle sê so kom alle goeie dinge tot ’n einde … dis ongelukkig maar so.
Einde van ’n era…
