Van Oudtshoorn tot sjef vir Hollywood-sterre

Rudi Stroebel (44), wat deels grootgeword het op Oudts­hoorn, woon en werk die afgelope jare in Los Angeles, VSA. Foto verskaf

HY het deels op Oudtshoorn grootgeword. Deesdae is dié voormalige Oudtshoorniet, Rudi Stroebel (44), ’n sjef van formaat wat in Los Angeles in die VSA woon en die afgelope ses jaar vir talle bekende Hollywoodsterre hul daaglikse maaltye voorberei het. Onder dié sterre tel groot name soos Mariah Carey, Danny Devito, Ben Affleck, Michael Douglas en Emi­nem.

Tans werk hy aan ’n opwindende nuwe projek: ’n aanlyn-geselsprogram getiteld A Matter Of Taste, waarin hy die oor-eenkoms tussen jou dieet en jou geestes- en emosionele gesondheid in diepte met uitverkore gaste sal bespreek.

Die Hoorn het met die hulp van die internet by sjef Rudi in Los Angeles gaan aanklop en met hom gesels oor sy Klein Karoo-herkoms, sy reis deur die kulinêre wêreld, sy passie vir kos­maak en sy planne vir die toekoms. 

Rudi, jy het deels in Oudtshoorn grootgeword en hier skoolgegaan. Wat is jou gunsteling Oudts­hoorn-herinnering?

Om een gunsteling uit al die wonderlike herinneringe te kies sal baie moeilik wees, maar my dae in Hoërskool Oudtshoorn se koor is vir seker hoog op my lys. Veral die koorkampe! Ek dink steeds met heimwee daaraan – die goeie vriende en die lek­ker lag. Dit was ’n wonderlike tyd in my lewe. 

Wat is jou vroegste kosherinnering as kind in die Klein Karoo?
My vroegste kosherinnering is vars mossels wat ek saam met my pa en my ooms tussen die rotse by die see versamel het. Wat Oudtshoorn egter betref, is my gunsteling kosherinnering die Sante Fé Spur. As kind was Spur-toe-gaan altyd ’n bederf en ek sal hulle pepperoni-pizza, asook die tuisnywerheid se koeksisters nooit vergeet nie.

Hoe het jy jou weg tot in die kulinêre wêreld gevind en wie was jou inspirasie?
Ek het op 18-jarige ouderdom in die restaurantkombuis van Oudts­hoorn se befaamde sjef Annette le Roux begin werk. Ek het ’n natuurlike aanvoeling vir die kookkuns gehad en sy kon dit in my raaksien. Die saadjies is daar geplant en my passie vir kosmaak het sommer net daar begin groei. Sy bly my heel eerste ku­linêre heldin. Ek het toe vir meer as 20 jaar in restaurante gewerk in Londen en in Kaapstad, en in 2014 het ek my eie spysenieringsmaatskappy, genaamd Food & Love, hier in Los Angeles geopen.

Vertel ons so ’n bietjie van die gesels­program waaraan jy tans werk.
Ek het vroeër vanjaar besluit om op ’n lekker lang en welverdiende vakansie te gaan nadat ek vir twee jaar as ’n privaatsjef in Hollywood gewerk het. Om vir bekende mense te kook is waarlik ’n wonderlike ervaring, maar vir eens was ontspan, reis en rus op die spyskaart vir my.

Ek het kosbare tyd in Oudtshoorn by my ouers (Paul en Petro Stroebel) deurgebring, vir die Kaap loop hallo sê, en ook New York en Seattle besoek en hulle wonderlike restaurante gaan beleef.

Dit was juis gedurende daardie vakansie wat die idee van A Matter of Taste by my vlam gevat het, en ek het dit dadelik begin ontwikkel.

Die program word aan die begin van 2022 amptelik be­kend gestel en in die eerste reeks gesels ek uitsluitlik met Suid-Afrikaanse gaste. Dit is vir my beide lekker én belangrik om met die afskop van hierdie opwindinde projek ook my herkoms te eer en te vier.

Watter raad sal jy aan jong aspirant-sjefs in die Klein Karoo gee?
Wees honger vir leer. Maak ook seker jy luister meer as wat jy praat, en moenie te bang wees om soms van rigting te verander nie.

Dis wel scary, maar dis deel van die reis. Maak van daai vrees jou stert­wind en vlieg!

• Volg Rudi op Facebook en Instagram by die onderstaande skakels as jy meer wil weet oor dié Klein Karoo-seun wat vandag sjef is vir die sterre: @foodandlovewithrudi en @amatteroftasteshow. (Deur Robert Koen)