Deur Reinderd Visser
Naas Delvillewoud staan die slag by Marrièreswoud uit as van die Springboks se heldhaftigste momente tydens die Eerste Wêreldoorlog. Dit word bevestig deur ’n spesiale reeks seëls wat in 2014 uitgereik is om Suid-Afrika se rol in die oorlog te gedenk, met Delvillewoud en Marrièreswoud naas mekaar afgebeeld!
Was daar Klein Karoo-manne by die slag van Marrièreswoudd betrokke? Inderdaad. Ek kon ten minste twee name kry van jong mans van die omgewing wat op 24 Maart 1918 daar die hoogste prys betaal het.
Hulle was Johannes Grobbelaar (29), wie se ouers in Langenhovenweg op Oudtshoorn gewoon het, en Lennox Stewart (28) wie se ouers in Uniondale gewoon het. ’n Derde soldaat van hier, Julius Oschmann (22) wat sedert 22 Maart vermis was, se ouers was van Ladismith. Al drie se name verskyn op die muur van die Pozieres Gedenkteken, want hul liggame is nooit gevind nie.
Ek was in Januarie 2018 by dié gedenkteken met die name van 320 Suid-Afrikaanse soldate wat tussen 21 en 24 Maart 1918 in die Gauchewoud- en Marrièreswoud-omgewing gesneuwel het en wie se liggame nie gevind is nie. Ek het as eerbetoon ’n vlaggie in die grond voor hul name gesteek (foto).
Wanneer weet jy dat jy as soldaat iets uitsonderlik vermag het en as die dapperste onder die dapperes beskou is? Jy weet dít wanneer die leier van die vyand waarteen jy geveg het, dit met die grootste respek van jou sê.
Dié leier was Keiser Wilhelm 2 van Duitsland, opperbevelvoerder van die Duitse weermag tydens die Eerste Wêreldoorlog. Hy het dit van die Springboks in Noord-Frankryk gesê. Wel, hy het dit van die Skotse 9de Regiment gesê, maar dit was die Suid-Afrikaners wat onder die Skotse vaandel geveg het, wat sy soldate tot die uiterste beproef het. Volgens hom was hy dankbaar dat hy nie teen méér soldate van hul stoffasie geveg het nie, want dan sou hy geen soldate oorgehad het om verder te veg nie.
Die hoogtepunt van die bloedige gevegte was op 24 Maart 1918 in die omgewing van Marrièreswoud. Die oormag van die vyand sou uiteindelik te groot wees en op ’n paar krygsgevangenes na is die Springbok Brigade hier uitgewis. Daar was feitlik niemand oor om die keiser se groot eerbetoon aan te hoor nie. Wat hulle hier vermag het mag egter nooit vergeet word nie!
Die Springboks se onverskrokkenheid begin egter al op 21 Maart, by ’n ander woud ’n paar kilometer verder oos, naamlik Gauchewoud. Die Springboks was hier ingegrawe toe die berugte Lente-offensief van die Duitsers dié dag begin het, hul finale poging om die oorlog in hul guns te laat swaai. Die meeste Springboks kon daarin slaag om saam met ander Geallieerde troepe terug te val en weer in te grawe, maar een kompanie, onder ’n kapt Green, is op 22 Maart omsingel en volledig uitgewis. Die lewensverlies van Suid-Afrikaanse soldate toe reeds 900 man.
Op 23 Maart het 500 Springboks onder bevel van genl Dawson die agterhoede van die terugval gevorm en hulle net noord van Marrièreswoud ingegrawe met ’n goeie uitsig oor die groot aanvalsgebied. Die vyand sou hulle nie ongesiens kon aanval nie, maar daar was ook ’n groot oop vlakte met geen wegkomkans nie. Hul opdrag was soortgelyk aan dié in Delvillewoud twee jaar vroeër: “You are to hold this line. You will fight to the last man and the last round. There will be no surrender and no retreat”.
Elkeen van die uitgeputte soldate (hulle het vir vier dae onder moeilike omstandighede byna geen slaap of warm ete gehad nie) het 200 geweerpatrone ontvang en enkele masjiengewere met ’n beperkte hoeveelheid ammunisie. Hiermee moes hulle die vyand so lank moontlik vertraag sodat die res van die Geallieerde magte kon terugtrek en ’n moeilike rivier oorsteek. Dít, terwyl hulle geweet het dat hulle self nie sou kon terugtrek nie. Hier sou dit vir hulle eindig – lewend, gewond, krygsgevangene of dood. Hul weerstand het inderdaad die Geallieerdes sewe ure ekstra gegee om veilig oor die rivier te kom en gereed te maak vir teenaanvalle.
Teen omstreeks negeuur het masjiengewere van die vyand se kant begin knetter en bomme het op die Springboks begin reën. Teen elfuur het die Duitse aanval in erns begin.
Die Springboks het opdrag gehad om te wag totdat die vyand naby is voor hulle begin vuur. Teen twaalfuur was die aanval voorlopig afgeweer, maar die aanvalle het nie gestop nie en teen vieruur was daar maar sowat 100 man oor, en hul ammunisie klaar.
Toe die volgende aanval om kwart oor vier begin, het genl Dawson met ’n wit vlag voor sy manne in die rigting van die vyand begin stap om oor te gee. Duitse soldate het blykbaar vir hulle geskree: “Waarom het julle nie vroeër oorgegee nie!”.
Dié oorgawe is deur niemand as ’n skande beskou nie. Ek het die volgende woorde gevind van ’n Duitse offisier aan ’n gevange Britse offisier: ”We consider that the fight put up by that division was one of the best on the whole of your front, especially the last stand of the South African Brigade, which we can only call magnificent.”

Die Suid-Afrikaanse vlaggie voor die Pozieres Memorial geplant uit eerbetoon aan 320 Suid-Afrikaanse soldate. Foto: Reinderd Visser