Poem Mooney skryf oor verbode kamp- en swemplekke; oor ontworteling en verskuiwing…
Die tydperk waaroor ek hierdie keer skryf, was ’n tydperk toe ons nie eens ’n munisipale swembad gehad het nie.
Ons moes in die rivier gaan swem.
Daar was baie swemgate in die rivier, of in plaasdamme as die geleentheid dit voorgedoen het.
Maar baie keer moes ons hardloop as die polisie die swemmers uit die water uitgedryf of verdrywe het.
Baie keer het die manne uit hul klere uit gehardloop!
By die see kon jy nooit swem waar die bordjies, Swem verbode, ingeplant was nie.
Jy of die gesin moes Mosselbaai, Kleinkrantz en/of Preekstoel toe ry om te gaan swem, of anders by Souwesia by Brakrivier.
Die inwoners van George en Pacaltsdorp (nou praat ek van nie-blanke swemmers en nie-blanke swem- en kampeerplekke) het ’n gesogte kampplek agter Pacaltsdorp gehad. Vandag is dit in private hande.
En die swemplekke en kampplekke rondom Oudtshoorn?
Dit wat ons eens op ’n tyd kon geniet het, het ook ons stelselmatig verloor.
Die Broek (The Brook) waarheen die boy scouts en girl guides met skooluitstappies gegaan het, het ons verloor. Vandag is die krokodilplaas daar.
Die Soutgat – die gesogte Noord-einde-swemplek van die jongklomp – is vandag deel van die krokodilplaas. So is ook dié plekke geprivatiseer.
In Oudtshoorn self was daar net die swembad in Kerkstraat, maar dit was slegs vir blankes.
En op skroeiende warm somersdae moes ons of rivier toe, terwyl jy weet swem is verbode of jy gaan gevang word.
Brook toe. Soutgat toe of see toe, Mosselbaai, Souwesia, Kleinkrantz, Pacaltsdorp toe, Preekstoel en toegelate swemplekke in ander dorpe. Dit is nou as julle bevoorreg was om ’n motor te hê of as julle vanuit die gemeenskap ’n lorrie kon opmaak om agter die water en/of ’n kampplek vir bruinmense te loop soek.
En Schoemanspoort?
Toe ’n bruin kampplek in Schoemanspoort gevestig is, kon ons vir die eerste keer wettig swem en kamp.
Vir etlike jare kon ons langs die ri-vier kamp; daar waar die los klippe teen die heuwel vandag nog ’n henneringsbaken is.
Die plek is ook vandag geprivatiseer.
Waar die avontuursentrum vandag is, was die kampplek vir blankes – die ene met die rondawels. Ons is toe verskuif na die kampplek langs die Klein Le Rouxrivier waar oom Mike Rhode die opsigter was.
Hier kon ons vir jare nadat ons die tentpenne uit die grond getrek het in Schoemanspoort by die nuwe kampplek langs die Klein Le Rouxrivier swem en kamp.
Daar het ek met my troue, na die ont-haal in die ou Protea Hotel, die besoe-kers langs die Klein Le Rouxrivier laat dans op die sementblad. Gaste uit die Kaap, Sutherland, Ceres, Worcester, Calitzdorp, Ladismith, Oudtshoorn, Frazerburg en van oral oor. Ant Fytjie Cooper het Poy opdrag gegee om sy disco beskikbaar te stel. Vandag is die plek bekend as Poem se Voetrus.
En toe bou hulle De Hoek in die Kango vir ons. Ons moes vertrek, weer eens moes ons die tentpenne uittrek om De Hoek as ’n nuwe swemplek en kampplek te aanvaar.
Later is die Warmbad-spa vir bruinmense gebou.
Ons het later vir De Hoek en Warmbad afgewissel as ons wou swem of kamp.
De Hoek.
Warmbad.
En so met die verloop van jare het ons geswem en gekamp. En is ons teen ons wil verskuif en ontwrig.
Hoe was die verblyf?
By al die swem- en kampplekke wat ek genoem het, was komberse of tra-veling rugs, seile, tente wat gewissel het van vorm. Bell-tente, Cottage-tente.
Later karavane en toe chalets
En hoe lyk die situasie vandag?
Miskien moet ek julle die storie vertel van Koning Nabot se wingerd…
En wat dan van erfenisterreine?
Die situasie het nog nooit verander nie.
Ons word steeds ontken en verskuif.
Ons het so gewoond geraak om verskuif en onteien te word.
Diasstrand in Mosselbaai is onder ons uitverkoop en ontwikkel. Dit is vandag die speelplek van die rykes.
So ook Kleinkrantz.
Souwesia.
Pacaltzdorp.
Daar is ’n spreekwoord wat sê: Die mure het ore.
Eiendomsagente word oornag skatryk ten koste van ons sweet en trane.
Ontwikkelaars en buitelanders koop hierdie plekke op.
Ons het vandag nog net twee bakens oor: die warmbronne by die Calitzdorp Spa en De Hoek in die Kango, en iewers het ek ’n voeltjie hoor fluit, dat ons weer eens genoodsaak gaan word om ons tentpenne uit te pluk.
Of geld die spreekwoord van Horen seggen liegt men veel?