Waar trek ek my kruisie?
Interessant hoeveel kiesers vra by watter party moet hulle hul kruisie maak in 8 Mei se verkiesings. Dit is eintlik ’n maklike vraag om te antwoord. Moet net nie vir radikale, rewolusionêre en korrupte partye stem nie.
Daar is goeie keuses wat gemaak kan word tussen die VF+, ACDP, Cope, IFP en DA. Net jammer dat die DA uit desperaatheid steeds verkondig dat kiesers hul stem mors om vir kleiner partye te stem. Hierdie misleidende gebrom van die DA word ook nie meer deur ervare en gerespekteerde politieke kommentators onderskryf nie.
Die heel belangrikste is om te gaan stem, en om die korrupte partye van hul misbruikte magsbasis te ontneem.
Moet ook nie hoop dat Cyril Ramaphosa die lig in die tonnel is nie. Hy weet vir jare al van al die korrupsie in die ANC en het dit nooit aangemeld soos die Wet op Korrupsie vereis nie.
– Bart Vosloo, Oudtshoorn
Ruik ek ’n rot?
Die opskrif van ’n onlangse berig in Die Hoorn oor ’n brief wat die Besigheidskamer aan die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering gerig het, Ons gaan politieke leiers verantwoordelik hou, wat spreek van wit Afrikaanse kapitaaldominansie, het my koue rillings gegee.
In ’n vorige brief wat ek aan Die Hoorn geskryf het, het ek my opregte mening gelig ten opsigte van die politieke stabiliteit wat in ons dorp teweeg gebring is onder die burgemeester, Colan Sylvester.
Dit is goed vir besigheid en beleggings. Ek kan nie die “wit besigheidkamer” se toetrede tot die politiek verstaan nie; dit wil sê om briewe met politieke ondertone en vraagtekens rondom mnr Sylvester aan mnr Bredell te rig.
Ek weet regtig nie wat die rede vir die skrywe was nie, maar wat ek kan waarneem, was een vergadering wat die burgemeester nie bygewoon het nie. Dit blyk meer minagting vir die eerste burger se kantoor te wees. Kan ons maar sê julle het ’n ander kandidaat – of is dit die rot?
’n Vraag aan die “wit besigheidskamer”: Wie hou julle dop ten opsigte van arbeidswetgewing, implementering van die minimumloon, ens? Watter hulp verleen julle aan opkomende besighede of dien julle net jul lede?
Laastens, as opkomende sakepersoon benodig ek die huidige politieke stabili-teit om sake te doen en beleggers te verseker van hul kapitaal. Daarom rig ek ’n nederige versoek aan die “wit besigheidskamer” vir ’n vergadering met besighede in Bridgton sodat ons in die toekoms saam as besighede kan besluit en sê: wat word van politieke leiers in die toekoms verwag?
– Randall Rossouw, Oudtshoorn
(Die brief is aan die Oudtshoorn Besigheidskamer gestuur vir reaksie. Jaco Vorster, bestuurslid, het aangedui dat hulle die skrywer genooi het vir ’n gesprek en dat hy toegestem het daartoe. “Die tyd is hier om hande te vat, nie verdeeldheid te promoveer nie,” het Vorster gesê. Die Oudtshoorn Besigheidskamer is oop vir alle sakemense.)
Vryheidsdag
Vir die regering van ons tyd beteken vryheid ongelukkig nie dieselfde as vir die Christen nie. Dis waarskynlik die rede waarom feitlik die hele bevolking sedert 1994 al hoe minder vryheid ervaar. Kyk maar net na die ontsettende getal wrede moorde en ander misdaad-voorvalle wat ons land in ’n staat van vrees gedompel het.
’n Groot persentasie van die totale bevolking woon en werk agter veiligheidsheinings. Waar is die dae toe dit nie nodig was om gedurig jou huis of voertuig gesluit te hou nie? Alarmstelsels is net gebruik om te waarsku teen brand. Geen wonder die veiligheidsbedryf is so winsgewend nie. (Die enigste “voordeel”wat dit inhou, is dat dit werk verskaf.) Misdadigers het ongelukkig al hoe slinkser geword om veiligheidstoerusting te omseil. Oudtshoorn het dit die afgelope tyd op groot skaal ervaar.
Wat geloofsvryheid betref, het ons baie om voor dankbaar te wees. In baie lande, waarvan die meeste Islamitiese regerings het, is daar nie sprake van dié vryheid nie, waar hoofsaaklik Christene op verskillende onmenslike maniere vervolg word, dikwels tot die dood toe. Christene wêreldwyd behoort gereeld in gebed in te tree vir dié vervolgdes en organisasies soos Geopende Deure.
– Eden, Oudtshoorn