Dit was een van daai perferkte dae…

Perfekte vliegweer, ja. Of so het dit op die oog af gelyk vroeg die Sondag-oggend. Dit was een van daardie kalm Klein Karoo-dae wat dit lyk asof Pier-neef die omgewing kom skilder het met sy duidelike gedefinieërde buitelyne en sagte pastelkleure met die wasige sagtheid van kleure wat so eie is aan die groot spasie waarmee ons wat hier woon en werk so ongesiens deurentyd bederf word.

Nou ja, die weer is perfek en Romana neem my George toe om die Aerostar te gaan haal ná ’n bietjie instandhouding. Daar was ’n paar items aan die vliegtuig wat aandag moes kry.

Met die Covid-19 gemors is alles mos onderstebo en niks meer roetine en eenvoudig nie. Sy laai my af met vier kanne brandstof, want George Lugha­we het nie vliegtuigbrandstof nie. Dit is seker danksy die een of ander persoon wat soos klokslag ’n vet salaris kry, maar op sy of haar hande sit en geen dringendheid ervaar om dinge aan die gang te kry vir ons arme drommels wat tydens die “lockdown” ons eie potjie moet krap nie.

Alles gaan voor die wind. Ons gooi die kanne brandstof in die tenks en ek doen die voorvluginspeksie. Alles lyk goed en ek klim in. Binne in die kajuit gaan jy deur ’n ou en beproefde roetine om seker te maak alles is reg.

Regterenjin oudergewoonte eerste, nie lank nie en hy kry lewe … Oliedruk en ’n paar ander goed is reg. Nou links. Gou-gou vat die ou ook en al jou aandag is op die enjininstrumente om seker te maak alles op die instrumente stabili-seer waar dit moet. Dit is ’n pragtige dag en ek sien uit na die kort vlug na Oudtshoorn.

Ek ry uit na die aanloopbaan en roep die beheertoring. Ná die gebruiklike interaksie oor dit en dat is ek by die houpunt van aanloopbaan 29. Dit is die aanloopbaan in ’n westelike rigting. Ek doen soos gebruiklik my finale toetse daar en alles lyk goed.

“George Tower, Pappa Delta November is ready for departure.”

Die antwoord kom terug. “Pappa Delta November, cleared for departure off runway 29. Wind is 350 at 23 gusting 35 knots. Caution cross-wind component between 25 and 30 knots. Route as requested and call zone out.”

Ek lees dit oudergewoonte en slaafs terug terwyl die realiteit van die syfers insink. Daar is ’n baie sterk bergwind bo George en die plek is onnatuurlik vuurwarm so vroeg in Augustus. Dit beteken ’n hewige dwarswind van na-genoeg 55 kilometer per uur oor die aanloopbaan. Dit is nie kinderspeletjies nie en ek weet ek is in vir ’n ding vandag! Lekker om te weet die aanloopbaan is omtrent 50 meter wyd as die wind my wegdruk. Ek draai op die aanloopbaan en gee krag – alles – want ek wil in die lug kom. So gou moontlik. Die Aerostar laat my nie in die steek nie en met 620 perdekrag om my is ons gou in die lug, al is dit so skeef soos ’n krap oor die aanloopbaan om te probeer rigting hou. So far so good…

Ek trek die wiele op en vat die klappe weg… maar o wee, alles ruk en pluk dat dit vrek. Die turbulensie is van die ergste wat ek in al my jare se vlieg ervaar het. Kophou, uithou, aanhou en bekhou. Ervaring het jou geleer dit kry darem een of ander tyd einde. Klim net met alles wat jy het. Ek kom uit die onstabiele lug uit. Ek draai stadig in ’n oostelike rigting om weg te bly van die berge af, maar dit gaan woes. Wind oor berge is sinoniem met wilde turbulensie. Ek klim met alles wat die Aerostar het, maar moet sommer goed vashou om nie uit my stoel uit te val nie!

Gelukkig weet ek die Aerostar is een van die sterkste ligte vliegtuie wat ooit vervaardig is, so alles sal “okay” wees.

Ek dink sowaar tussenin aan die wys-heid … “It will be okay in the end. If it is not okay, it is not the end.” Ek lag maar vir myself. Ek probeer van die Outeniquaberge wegbly, maar dit gaan erg! Die noordewind gooi my rond soos ’n blaartjie in die wind. Ek baklei saam met die kontroles en kragstellings in die kajuit is van hoek tot kant om regop en in beheer te bly.

Ek was net bly daar is niemand saam vir ’n eerste vlug saam met my nie – dit sou ’n ramp wees!

Dit verg al my konsentrasie om nie met vliegtuig en al onderstebo te draai nie, want die turbulensie is ongelooflik erg. Uiteindelik groet ek George se beheertoring, maar dit skud so ek kan omtrent nie op die radio praat nie.

Op sulke dae is vlieg harde werk en nie lekker nie. Hoog oor die berge raak dit rustiger en my gemoed sommer ook.

Ek maak ’n wye draai oor die Lang-kloof na Schoemanshoek en sien alles is – soos gewoonlik – baie meer kalm in die Klein Karoo, en ná ’n roetine- nadering land ek met die Aerostar soos honderde vorige kere met ’n tjirp-tjirp van die wiele wat met die teer van die aanloopbaan kontak maak. Ons verstaan mekaar goed en ervaar altyd ’n oomblik van stille verwondering dat jy hierdie mensgemaakte tuig kan beheer in die lug in en weer veilig op ’n ander plek op die grond terugsit. Merkwaardig, selfs ná duisende vliegure.

Ek is veilig tuis met die betroubare Aerostar vir die hoeveelste keer die laaste 18 jaar, selfs ná hierdie “wolf in skaapklere dag”!

Ek hoop net my laaste vlug in die Aerostar ZS-PDN eendag is nie so onaangenaam nie. Want die laaste keer kom al hoe nader, of ek nou wil of nie. Dit is nou maar eenmaal hoe dit gaan, nie so nie? Alle goeie dinge kom ook ongelukkig tot ’n einde.