Polisie soek mans betrokke by roof en verkragting

DIE Oudtshoorn Polisie het het identikits vrygestel van twee mans wat na bewering betrokke was by ’n voorval waartydens ’n 14-jarige meisie in ’n oop veld agter die Bongolethu Stadion op Oudts­hoorn beroof en verkrag is.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die meisie na bewe­ring deur vyf onbekende mans beroof en het een van hulle haar verkrag.

Die beweerde voorval het op 28 Junie 2020 omstreeks 01:00 die nag plaasgevind.

Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, ao Franco Bestbier, by sel 083 547 7086 te bel.

• Die polisie vra ook dat die gemeenskap hul bystaan met inligting na die verkragting van ’n 19-jarige vrou deur ’n onbekende bruin man Sondag-aand (2 Augustus 2020) by die kanaal te Raubenheimerstraat in Dysselsdorp.

Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, sersant Kammies, kontak by 073 293 1591 of die kantoor van die Gesinsgeweld-eenheid by tel 044 203 7500.