Die ongelukstoneel Sondagaand by die kruising van van Eycklaan in Ladismith en Roete 62 na Calitzdorp. Foto’s: Deon Meyer
’N HARDE slag op die verbygaande Roete 62 het inwoners van Nissenville in Ladismith Sondag omstreeks 22:00 uit hul huise gejaag om die oorsaak te gaan vasstel.
Die slag is veroorsaak deur ’n botsing tussen ’n Toyota Quantam-bussie van Emile Muller Vervoer, wat werknemers van Ladismith Kaas se fabriek na hul dag se werk huis toe in Nissenville vervoer het, en ’n wit Opel Astra.
Die botsing het na bewering plaasgevind toe die wit Opel Astra uit die teenoorgestelde rigting gekom en by die afrit na Nissenville ingedraai het.
Die taxi is aan die bestuurderskant getref en die impak van die botsing het die Opel Astra weer in die rigting gedraai waaruit dit gekom het. Volgens die taxibestuurder, Gerswhin Titus, was dit onmoontlik vir hom om die ongeluk te kon vermy.
Die Polisie en nooddienste van die dorp was gou op die toneel met die verkeershoof, Stef Petersen, en die polisie wat die verkeer gereguleer het.
Van die insittendes in die Opel Astra moes uit die voertuig gesny word. Die beseerdes is per ambulans na die Alan Blyth Hospitaal geneem.
Behalwe vir die bestuurder van die Opel Astra, Patrick Malgas, is die ander beseerdes reeds uit die hospitaal ontslaan. (Deur Deon Meyer)
