Briewe

Volpunte vir dié 2 lesersbriewe

Volpunte en goue sterretjies aan Trotse Oudtshoorniet en Gefrustreerde belastingbetaler vir jul briewe verlede week in Die Hoorn. Ek lig trots my hoed vir julle… Baie geluk.

Ek glo en vertrou dit is die ge­voel van die meerderheid getroue belastingbetalers wat dit erns maak met ons dorp en sy voortbestaan. Ek kry die gevoel dat baie van die amptenare gerieflik skuil agter Covid-19 om tuis te bly, maar volle salarisse verwag.

Vergelyk byvoorbeeld die kas­siere van privaatbesighede soos Klein Karoo Agri, Pick n Pay, Spar, Checkers, ap-teke en noem maar op, al­mal is op hul poste. Hoekom nie die munisipale amptenare nie? Nou moet ons maar geskatte bedrae betaal.

Wat as ons besluit om nie te betaal nie? Wat gebeur dan? Ons sal beboet word en rente op uitstaande bedrae moet betaal.

Probeer maar net bel na die munisipaliteit en kyk of jy by ’n betrokke amptenaar uitkom. Of hy/sy is in ’n vergadering, met verlof, op kursus, siek of sommer net nie beskikbaar nie. Dalk selfs besig met ’n ongemagtigde rit met ’n amptelike voertuig na wie weet waar! Asseblief, red Oudtshoorn!

Miskien is dit reeds te laat soos die res van ons land.
– Hoogs bekommerde Pie­ter, Oudts­hoorn

Help kinders van strate haal

Ek lees in Rapport van 2 Augustus 2020 die mees fantastiese, positiewe onderhoud wat Hanlie Retief gevoer het met Jurgens van der Walt en sy vrou van Sedgefield wat straatkinders onder hulle vlerke geneem het en hulle ook menswaardig laat voel.

Hier is so baie innoverende mense in Oudtshoorn en so baie hawelose kinders; kan ons nie ook iets doen om hulle van die strate af te haal en sodoende ook weer ons strate skoon en veilig te maak nie?

Kom ons sit koppe bymekaar. Ek is in!
Mona Brittnell (tel 044 272 3390)

Hoorn-meningstuk

Ek het met verbasing en kopskuddend die nuusberig in Die Hoorn (30 Julie 2020) onder die opskrif: “Paartie raak rof ná Hoorn-meningstuk” gelees. My oordeel is die redaksie van Die Hoorn verdien nie en is nie skuldig aan die kommentaar wat deur ene Hein Coetzee en andere kwyt geraak is nie.

As jy voorgee om ’n joernalis te wees sal die etiek wees om kalm, beredeneerd en objektief, in aanvaarbare taal kommentaar te lewer of ’n berig te skryf.

Platvloerse en beledigende taal pas nie by ’n gesoute joernalis nie. Ek dink die uitgewer van Die Hoorn moet ’n pluimpie kry dat hy hom verwerdig het om te antwoord op sulke afstootlike taalgebruik, aggressiewe woorde en destruktiewe kommentaar.

Van ons wat self ervare in die lewe is, kan duidelik sien dat hierdie sogenaamde kommentators ’n politieke agenda subtiel dryf.

Volgende jaar is munisipale verkiesingsjaar en kry ’n mens klaar die gevoel op watter vlak ’n sekere politieke party sy veldtogte gaan bou. Ek dink baie van Die Hoorn se lesers was beïndruk en bly om die meningstuk te kon lees. ­

Hierna het elke leser die reg om sy eie mening te vorm.
– Bart Vosloo, Oudtshoorn