Dit is net so finaal!

Deur Johan Strasheim

Deur Johan Strasheim

Dirkie was my pêl. Eintlik was Dirkie omtrent almal se pêl. Hy was een van die heel eerste ouens wat ek ooit op Wonderboom Lughawe ontmoet het en ons het groot maats geword oor die jare. Hy was so ’n bietjie ouer as ons, maar ’n klassieke stoutgat van formaat.  Dirk was passievol oor vlieg en een van die mees natuurlike vlieëniers saam met wie ek ooit gevlieg het. En Dirk was natuurlik ’n Aerostar-ghoeroe. Hy het ’n klomp ouens aangesteek – en dit sluit my natuurlik in!

Sodra Dirk geweet het jy vlieg ’n lang trip was hy die eerste om te bel en te vra hoe dit gegaan het. Hoe was jou grondspoed? Hoe was die weer? Turbulensie? Was dit lekker? Wat was die tyd?

Mettertyd raak ’n ou gewoond aan hierdie belangstelling van ’n vriend – en dit is lekker. Dit is waarvoor vriende daar is, nie so nie?

Toe kom 18 Januarie 2005.  Laatmiddag bel my vriend Gert my en sê vir my Dirk en sy passasiers is die middag weg uit Wonderboom uit en die klomp is ”missing” en dit lyk nie goed nie …

Dit is daardie nuus wat ouens wat vlieg nie wil hoor nie. Ons almal bly  hoopvol, maar dinge lyk nie goed nie.

Die volgende oggend kom die slegte nuus deur … Hulle het die vorige middag in baie slegte weer naby Harrismith verongeluk.

Ons almal kyk mekaar met uitdrukkinglose oë aan en kan maar net ons koppe skud in ongeloof – en wonder wat dan nou eintlik skeefgeloop het.  Wie sal ooit weet! Dirkie was ’n goeie “pilot” en beter as meeste. Die vriendekring is maar hartseer en bedruk, maar die lewe gaan nou eenmaal maar aan, soos altyd.

Die volgende week is hierdie kort beriggie van my in een van die plaaslike vliegtydskrifte:
“On Tuesday 18 January 2005, aviation lost one of its few legendary characters and a good friend to many of us – Dirk de Vos. Dirk was on his way from Wonderboom to Harrismith with four passengers in his beloved Aerostar.

Dirk said many times that: “We do not retire from aviation, we die”, and then he would show that devilish wide-eyed grin of his.  Being a somewhat unorthodox character, Dirk probably would have preferred no other way to go; yet it is still very sad and hard to let him go. Dirkie belongs to the ages now, but we preferred it when he belonged to us. As I put my pen to paper I was instantly struck with the difficulty I was having in referring to Dirk in the past tense.  His strong presence is still so vibrant, so alive. Dirk was a passionate man. He was passionate about aviation – especially driving Aerostars – and he was passionate about his three children.”

Dit is nou al meer as 13 jaar gelede en ek dink steeds gereeld aan Dirkie.  Die tyd vlieg net verskriklik.
Dirk het gereeld met sulke direkte sêgoed uitgekom wat ons manne in trane gehad het … soos: “Hoor hier, kêrels, julle manne moet versigtig wees … vet mense is skelm”. Hy het ook gereeld gesê dat ’n ou verkoop net sy Aerostar as hy ’n “jet” koop of sy vliegmedies verloor. Dis nogal nie te verwyderd van die waarheid nie!

Nou ja, Dirkie het daardie ontstui­mige somermiddag op die Hoëveld nog ’n statistiek geword saam met ’n paar ander mense, en dit is so hartseer. Ons mis hom nog steeds baie. Hy het soms gelag en gesê ons moet onthou vir ’n klomp mense daarbuite is die dood ’n uitkoms! Dan rol hy sy oë en lag te lekker uit sy maag uit. Seker so. Wie sal nou weet watter onsigbare kruise jou maters in die lewe dra…

Die dood van ’n vriend is net so finaal – en dit is nie lekker nie. Mens wil nie jou vriende begrawe nie. As ’n ou iets goed moet probeer put daaruit is dit dat vir hom – en vir ons ouens wat nog aangaan tot ’n mate – tyd stilstaan.  Soort van soos vir Prinses Diana. Haar legende lewe voort en haar foto’s lyk nog almal presies dieselfde.  Dit is ook al 21 jaar gelede! Ek sê weer … die tyd vlieg. Erg.

Nou ja, Dirkie, my ou maat, ons mis jou tjomma! Jy het jou lewe geleef soos ’n lampie op die pad van baie, my vriend.  Altyd daar, altyd bereid om te help – dag of nag. Jou lampie se vlam is nie meer daar nie, maar jou legende staan nog sterk – en sal seker nog vir ’n lang tyd wees.

As dit net nie so verdomp finaal was nie …