Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur
middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle verstaan –
word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.
By Nal’ibali word ons dikwels gevra om advies oor lees te gee. Daar is sommige vrae wat ons oor en oor ontvang. Ons het dus gedink ons sal die vyf vrae wat die meeste gevra word met julle deel – en natuurlik ons antwoorde daarop!
1. Wat is die nut daarvan om vir babas te lees as hulle nie verstaan wat jy lees nie?
Om vir babas en kleuters te lees stimuleer hulle denke en ontwikkel hulle taal. Hulle kan dalk nog nie praat nie, maar hulle luister en neem elke woord in wat jy sê! Om boeke met hulle te deel is ook ’n wonderlike manier om ’n band met jou baba te vorm. Wanneer sy dit geniet om saam met jou na boeke te kyk, leer sy dat boeke dinge is wat haar goed laat voel! En daarom sal sy meer geneig wees om later te wil leer lees.
2. Hoe dikwels en vir hoe lank behoort ek vir my kind te lees?
Indien moontlik behoort jy elke dag 15 minute vir jou kind te lees. Sommige kinders sal dalk langer saam wil lees. Ander kinders – veral baie jong kinders − kan dit moeilik vind om vir 15 minute te konsentreer. Jou kinders moet dit altyd geniet wanneer jy vir hulle lees, en dit moet nie soos ’n taak voel nie. Verdeel eerder die 15 minute in korter tye indien nodig.
3. Watter boeke is goeie boeke om vir my kind te lees?
Enige boek wat jou kind geniet, is ’n goeie boek, want dit moedig hulle liefde vir lees en boeke aan. Probeer altyd boeke in jou kind se moedertaal vind en lees dit saam voor jy begin om boeke in ’n ander taal vir hulle te lees.
4. My kind kan nou self lees. Moet ek nou ophou om hardop vir hom te lees?
Nee! Vind boeke wat jy dink hy sal geniet, maar wat nog steeds effens te moeilik is vir hom om self te lees, en lees dit hardop vir hom.
5. Ek wil hê my kinders moet boeke respekteer en mooi daarna kyk. Hoe kan ek hulle leer om dit te doen?
As jou kinders sien dat jy boeke met respek hanteer, sal hulle ook leer om dit te doen. As hulle dit geniet wanneer jy hardop vir hulle lees, sal hulle mooi na boeke kyk omdat hulle die stories in die boeke koester!
