Oor kwotaspelers
“Die politiek van Suid-Afrika maak van hom ’n kwotaspeler en hy moet dit aanvaar, of gaan jukskei speel,” redeneer Johan Wagener in sy brief oor Ashwin Willemse en kwotas (Die Hoorn, 28 Junie). “Dit is goedkoop publisiteit wat hulle soek. Hulle doen niks positiefs nie, maar wil gehoor word”; “ouvrou-klaagliedere” en “klakous wat nie sy kant van die saak gestel het toe hy die geleentheid gehad het nie”.
Dié soort redenasie van Wagener gaan duidelik oor veel meer as Willemse, met die stelling: “Die ironie is dat ek as ’n wit man, ’n kwota-tenderaar word as ek met die staat wil besigheid doen.”
Oudtshoorn is ’n gemeenskap waarin die politiek van die verlede vandag nog baie pyn by ’n groot deel van ons bevolking laat.
In dié spasie sou ek so baie dinge kon skryf waar ek vanuit subjektiwiteit rondom my dorp en land se verlede meer polarisasie as begrip sou bevorder. (Op ’n onlangse besoek aan die Kango Grotte dink ek weer aan die aparte ingang wat geboor is vir nie-wittes; hul parkering aan die voet van die heuwel; werk as gidse gereserveer vir ’n sekere velpigment; selfs sonder kwotas / die onteiening van my oupa se plaas na sy sterfte en hoe my ouma haar hordes vee moes verkoop vir byna niks weens gedwonge plasing in ’n tweevertrekhuisie in ’n Karoodorp nadat haar man op die plaas begrawe is. Daarna is gepoog om haar kinders op die inboekstelsel van haar te verwyder en by boere in te skryf.)
Ten spyte van soveel onreg van die verlede lewe ons vandag egter tog in redelik goeie rasseharmonie in hierdie dorp. Ons respekteer mekaar en vergifnis is eg, want ons leef vir die toekoms van ons kinders. Hierdie soort uitsprake van Wagener maak egter pyn van die verlede los, wat ek dink steeds op ’n opbouende manier hanteer kan word: Kom ons doen iets positiefs.
Ashwin het gefaal om hierdie gebeure rondom sy gevoel, reg of verkeerd, van koverte rassisme en ondermyning te omskep in die ideale geleentheid en voorbeeld hoe om wedersydse begrip tussen rasse opbouend te skep.
Wagener voel gekwes oor die effek van politiek agv sy velpigment. Graag nooi ek Wagener vir ’n geleentheid tot opbouende, respekvolle gesprek om sy kant van die saak te kom stel, waarby die einddoel is om begrip vir mekaar se sensitiwiteite te kan kry, daarna hande te vat en omsigtig verder te werk aan ’n harmonieuse, nie-rassige samelewing.
Wagener en enige ander persoon wat ernstig is oor versoening, die oorbrugging en begrip van sensitiewe verskille tussen groepe in ons samelewing is welkom (’n gratis koppie koffie inge-sluit) op Woensdag, 11 Julie om 19:00 by die Klippie Teater (regs van Checkers in Voortrekkerweg). Boodskap na sel 081 538 8905.
– Dr Clifford van Wyk, Volmoed