Dit is nie teen die wet om te lieg nie!

Is hierdie opskrif nie ’n onaangename waarheid nie?

Maar om te lieg is oneerlik en dit is natuurlik oneties! Dit is waar “die wet” en etiek in dieselfde sin soms ietwat teenstrydige – selfs botsende – interpretasies, implikasies en gevolge het.

Etiek is die versameling morele waardes van ’n individu. Dit help jou om the besluit tussen wat reg is en wat verkeerd is. Dit word deur jouself uitgewerk en jou eie reaksie op situasies word daardeur bepaal. Etiese optrede vorm ’n belangrike deel van integriteit en hoë etiese standaarde skep vertroue by jou gemeenskap.

Net so breek ’n afwesigheid van hoë etiese optrede hierdie karaktereienskappe weer af. Veral by persone in verteenwoordigende openbare posisies. Kyk maar hoe gaan van ons politici aan!

Wette is reëls wat almal in die gemeenskap se gedrag beheer en deur die owerhede toegepas en selfs afgedwing word. Met onwettige optrede word iets gedoen wat “teen die wet” is – almal weet gewoonlik wat dit is. Onetiese optrede, daarenteen, is waar ’n persoon se gewete en beginsels die oorwegende besluit onderlê – en dit verskil soms maar tussen mense!

Dit is byvoorbeeld in baie lande heel “binne die wet” om middels soos medisyne en grimering op diere te toets, terwyl daar baie mense is wat dit as oneties beskou.

Abdul Bhamjee was die beroemde en berugte, maar baie invloedryke, charismatiese sokkerbaas in die laat 1980’s. Ek verbeel my hy is eenmaal in ’n onderhoud gevra oor hoe hy dink hulle die een of ander groot probleem gaan oorkom, en sy antwoord was: “We’ll double-cross that bridge when we come to it.” – tot groot vermaak van almal wat gestaan ek luister het.

Ek weet dat Amichand Rajbansi, die leier van die destydse Minority Front – ook bekend as die Bengal Tiger, dit wel gesê het.

Bhamjee is skuldig bevind aan bedrog van R7 miljoen in 1991 en dit het die einde van sy loopbaan in die sokkerwêreld beteken. Sy verweer was dat dit vergoeding was vir die tyd wat hy weg van sy besigheid moes spandeer. Sy etiese raamwerk het oor die skeidslyn tussen eties en wettig gegaan en hy het uiteindelik die prys daarvoor betaal.

Werk die reg en etiek saam om die gemeenskap te orden? In ’n teorieties-ideale wêreld seker, ja. Soort van. Soos ek sou sê: “Ja, die wêreld is plat en ons is almal is lief vir mekaar.”

Terwyl wette en morele waardes soms soortgelyke kwessies en bekommernisse kan aanspreek, kan die onderliggende logiese oorwegings waarop dit baseer is, verskil, en weens die verskillende benaderings wat gevolg word, kan wette misluk om etiese beginsels op pragmatiese gronde te weerspieël – of selfs bewustelik op te offer.

Daar word gesê dat die verhouding tussen etiek en die reg is dat die gewete van die individu (etiek) die beskermer of “voog” is vir die reëls wat die gemeenskap ontwikkel het vir sy eie behoud (maw die reg oftewel die wet). Daar is egter perke aan wette. Wette kan mense byvoorbeeld nie eerlik of regverdig maak nie.

Op die ou einde bepaal wette dit wat ons almal moet doen en etiek dit wat ons behoort te doen.

Dit is nie teen die wet om te lieg nie, maar dit is beslis oneties … Wat vir een onetiese optrede in ’n spesifike situasie is, kan vir ’n ander heel aanvaarbare optrede wees. Ons waardestelsels verskil seker maar – of daar is ander magte, kragte en emosies wat sulke besluite onderlê wat nie altyd rasioneel, bekend of heeltemal duidelik is nie. Dit is natuurlik ’n baie handige verskoning ook.

Gelukkig weet ons dat goed altyd seëvier oor sleg, reg oor verkeerd. Party mense skryf dit toe aan “karma”. Jy skep natuurlik die hele tyd karma met wat jy doen, wat jy dink, jou gedagtes, jou woorde, uit die aksies van ander onder jou beheer, uit jou houding, jou verwagtinge en jou leefstyl.

Jy skep ook karma uit aksies wat jy bewustelik uitvoer asook aksies wat onbewustelik uit onkunde spruit.

So het kragte wat ons nie altyd verstaan nie ’n manier om alles reg te stel en balans te herstel op die ou einde.

Of wat sê ek…