Briewe van lesers: 21 Julie 2022

Gedig oor boom wat sneuwel

Ek verwys na Die Hoorn van 7 Julie 2022.

Daar doen hulle dit toe weer; die “saag-en-byl-brigade” van die munisipaliteit. Aan dié strydlustiges dra ek die volgende gedig op. Maak dit sommer deel van die munisipaliteit se verordeninge oor fauna en flora:

The Tree
Let us pause for the taking of inventory,
to measure the debt we owe the tree.
For the searching root that knits the soil,
the cooling shade for those who toil,
the air we breathe, nature’s greatest gift,
and the leaf that heralds each season’s shift.
Forget not the fruit that feeds man and beast,
the branch that burns to prepare the feast.
The sturdy frame that builds the home,
and the paper on which you read this poem.
The tree gives all and asks no prize,
even making the axe that ends its life.
(Anoniem) – Espie, Oudtshoorn

Plant bome om hitte te bekamp

Ek skryf na aanleiding van twee van my gunstelingonderwerpe in verlede week se koerant, naamlik die uithaal en/of afkap van bome.

Oud-inwoners van Oudshoorn sal weet hier waar dit so warm is, plant jy bome en haal nie uit nie.

In die woonbuurt waar ek bly en ook een van die eerste inwoners was, het ons begin bome plant op die regte plekke, veral naby die speelparkie. In die skaduwee is bankies gesit om die omgewing te geniet.

Verlede week is drie groot bome met wortel en tak daar uitgehaal sonder toe-stemming (kamstig te oud). Die enigste granaatbos wat die mooiste granate gedra het, is afgesny (sal dit ooit weer uitloop?).

As jy beplan om ’n boom te vernietig, wag tot middel Februarie om drie-uur die middag en kyk of jy dit nog wil doen aangesien dit die warmste maand en tyd van die dag is.

Lekker bome plant!
– Mona Brittnell, Oudtshoorn

Ope brief aan Oudtshoorniete

Ek het 11jaar op Oudtshoorn gewoon, en is nou al enkele jare naby die Kaap.

So nou en dan besoek ek dié Karoo-dorp met sy mooi argitektoniese sandsteengeboue. Maar, o wee!

Vandag stap ek deur die dorp. Ja, toe ek hier op die dorp met sy groot voëls gewoon het, was daar al aftakelings gewees, ek weet dit. Maar vandag, terwyl ek deur die dorp stap, was ek sprakeloos hoe erg die dorp verwaarloos het.

Buite is daar die verval van die pragtige sandsteengeboue. Al dié argitektuur gaan tot niet. Hier en daar word dit op ’n dom manier herstel.

Terug na die sandsteenelement. Die verwering of erosie van die sandsteen kan hokgeslaan word met die nodige kundigheid. Maar as daar nie ’n wil is nie, sal dit nie baat nie.

Ja, ek weet daar is eienaars van sandsteenstrukture wat nie die nodige fondse het nie. Maar daar is ook eienaars van sandsteengeboue met baie geld. Maar daar is eienaars wat nie een sent uitgee aan instandhouding en erfenis nie en die sandsteen verf of sementeer.

Die begraafplaas is net so ’n hartseer verhaal. Daar is baie van die grafsteenmonumente (ja, dit is monumente) wat pure kuns is. Gebeeldhoude marmer, sandsteenkunswerk. En natuurlik vertel die serk (plat grafsteen) iets van die geskiedenis. Die meeste van die serke is gevandaliseer, gebreek en verwoes. Self die munisipaliteit wat die terrein moet in stand hou, verwaarloos dit.

Die smeedysterhekke het verdwyn. Ek soek ’n verduideliking van die skroot-handelaars.

Julle dorpenaars het nie die trots of wil om iets daaraan te doen nie. Span lemmetjiesdraad of tralies rondom julle huise en tuine, en verder kan alles maar gebreek en gesteel word. Julle dorpenaars het nie meer fierheid nie, en ook nie meer vryheid nie aangesien julle julleself moet opsluit.

Ek hoop dat nie alleen die vandale nie maar ook die traak-my-nie-agtige burgers een pynlike Covidgriep kry!

Die dorp kan mooi wees, absoluut!
– Joost Wilfried Dirk Pyck

Onthou winkels wat Poem noem

Poem Mooney, dankie vir jou insiggewende skrywe oor ons dorp Oudtshoorn.

Ek het self hier grootgeword en onthou al die winkels wat jy noem. Ons het ook self Vrydag- of Saterdagaande gaan “window shopping” doen en met die oë gekoop. Dit was lekker dae.

Sien self hoe vuil is die dorp. Gaan kyk net hoe lyk dit weerskante van die hangbrug asook in die riete by die brug in St Johnstraat. Moenie eers praat van gate in strate en sypaadjies nie.

Sien uit na jou volgende skrywe.
– Oud-Oudtshoorn-inwoner

Dankie vir visie, burgemeester

Dankie aan die burgemeester van die Groter Oudtshoorn vir sy visie.

Sy onderneming om alle partye in te sluit, is ’n bewys dat hy ’n plan het om die dorpsbestuur weer rigting te gee.

Die feit dat raadslede gesprekke ge-voer het met kandidate vir die munisipale bestuurder se pos, is ’n ernstige oortreding en die speaker behoort dit te laat ondersoek. Indien hulle skuldig is, behoort hulle geskors te word.

Dit het nou tyd geword dat politieke partye hul kleinlike politieke verskille opsy moet stel, hande moet vat en inkoop by die burgemeester se visie.
– Oudtshoorniet