DIE projekleier by Genesis Rural Development op Zoar buite Ladismith, Jonathan Jantjies, het al verskeie kere bewys dat hy ’n raakvatter is, onder meer met ’n breiprojek vir bejaardes op Zoar.
Nou het die elektrisiteitskrisis weer vir Jantjies geïnspireer om ’n kersemaakprojek van stapel te stuur en “lig te maak” waar Eskom Suid-Afrikaners faal.
Vir die kerse gebruik hulle kerswas wat per koerier uit Pretoria afgelewer word. Volgens hom kan hulle uit elke 2 kg kerswas, wat buite op ’n houtstoof gesmelt word, 24 kerse maak. ’n Verharder word by die kerswas gevoeg om te verseker dat kerse van goeie gehalte gelewer word, waarna dit in vorms gegooi word.
Die kerse word aan ’n aankoper in Pretoria verkoop.
Die kersmaakprojek skep reeds werk vir vyf mense. Hulle bied hierdie gehalte kerse teen R3,50 per kers aan. Jantjies, wat baie geesdriftig is oor die projek, sê hulle ondersoek ook die moontlikheid om later gegeurde kerse te maak.
“Vir solank De Ruyter die krag afsit, solank sal Jantjies die projek aan die gang hou!” sê hy tong in die kies. (Deur Deon Meyer)
Op Zoar wys Genesis vir Eskom hoe oplossings kan lyk!
Van Genesis Rural Development se werknemers staan trots by hul eindproduk. Foto: Deon Meyer