Tuishuis en Queen’s Hotel vat hande vir Mandeladag

Formidabele vroue skep kreatiewe inkopiesakke vir Mandeladag Hier is die formidabele vroue van die ACVV Tuishuis en verteenwoordigers van die Queen’s Hotel met van die sakke wat die vroue gemaak het. Foto: Stefan Skapie Goosen

MANDELADAG, wat Maandag wêreldwyd herdenk is, was vanjaar ook nie op Oudtshoorn vergete nie. Die span van Queen’s Hotel by BON Hotels het die naaldwerkgroep van die ACVV Tuishuis betrek om die dag te vier.

Die gedagte om die dag nie net te vier nie, maar om dit ’n volhoubare projek te maak, het ontstaan by Tiaan Fourie, algemene bestuurder van die hotel.

“Een van die eerste projekte waaraan ons gedink het toe ons (BON Hotels) die bestuur van die hotel oorneem was dié van Mandeladag. Ons wou nie net die gewone donasie-ding gedoen het nie, en omdat ons baie linne het wat nie meer op viersterstandaard is en in ons kamers gebruik kan word nie, het ons Tuishuis genader om ons te help.”

Deur kreatief te dink, sê Fourie, het die hotel besluit om van die linne aan Tuishuis te skenk sodat hulle 67 herbruikbare inkopiesakke kon maak – om spesifiek die tradisionele 67 minute van Mandeladag te weerspieël.

“Ons wou nie net die linne weggooi nie, en ons wou op ’n kreatiewe manier bydra tot die gemeenskap. Hier­die sakke gaan op ons beddens se kussings geplaas word vir ons gaste om huis toe te neem met ’n kaartjie daarby wat die projek verduidelik.

“Hopelik kan ons dan so ook mense beïnvloed om iets soortgelyk in hul gemeenskappe of dorpe te doen.”

Volgens Fourie het die Tuishuis-inwoners sy stoutste verwagtinge oortref, en nie net 77 sakke gemaak in plaas van 67 nie, maar elkeen op ’n unieke manier versier.

“Die dames was uiters kreatief. Elk­een het iets verskillend op die sakke gesit. Ons het elkeen van die sakke teen R25 by hulle teruggekoop wat Tuishuis dan kan gebruik soos hulle goed dink. Die projek gaan ook nie net hier stop nie – hulle sal kan voortgaan daarmee – the possibilities are endless!”

Die Tuishuis-inwoners, wat sowattwee weke lank gewerk het om die sakke te voltooi (onder meer as gevolg van naalde wat gebuig het as gevolg van die dik materiaal), is ná ’n koppie koffie en tee, en ’n botterbroodjie (skon) met konfyt en room, na die Cango Wildlife Ranch geneem om die dag verder te geniet.

Irma Olivier, bestuurder van Tuis­huis, sê die fondse wat deur die projek ingesamel word, sal ’n bydrae lewer tot die herstel van die tehuis se dak. “Veral met die beurtkrag wat so deurmekaar was, het die inwoners baie hard oor die afgelope twee weke gewerk. Hierdie fondse sal by ons projekterekening gevoeg word om ons dak reg te maak, wat dringend nodig is.” (Deur Stefan Skapie Goosen)