
DIT het Maandag op Nelson Mandeladag geskenke gereën by die Coronation Versorgingsoord vir bejaardes in Bridgton op Oudtshoorn toe die 67 inwoners van die sentrum uit alle oorde geskenke ontvang het. Boobop is daar die dag ’n groentetuin op die terrein aangelê.
Die departement van landbou het tuingereedskap geskenk, terwyl die Union Stars Krieketklub, Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF), die CP Nel Museum, Suid-Kaap Kollege en die Oudtshoorn SAPD Honde-eenheid almal geskenke aan die inwoners oorhandig het.
Volgens Phillip Seroux, projekbestuurder van die OCJF wat ook by Coronation betrokke is, was dit sy voorstel dat Mandeladag op groot skaal by die versorgingsoord gevier en ’n groentetuin aangelê moet word.
Die hoogtepunt was die besoek van die adjunk-minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, Rosemary Nokuzola Capa.
Capa wat die inwoners toegespreek het, het self ook van die groentesaailinge in die nuwe groentetuin geplant.
Capa het in haar toespraak gepleit vir samewerking en haar dank uitgespreek teenoor die Oudtshoorn Munispaliteit vir die tegniese ondersteuning met die aanlê van die groentetuin wat deur studente van die nasionale landelike jeugdienskorps (Narysec) onderhou sal word. Die groep jongmense deurloop tans ’n vaardigheidsontwikkelingsprogram by die Oudtshoorn Infanterieskool.
“Vandag is Mandela se dag. Hy was ’n man van vrede, ’n man van liefde en vol van dissipline wie se wens dit was dat Suid-Afrika ’n vredevolle en reënboognasie sal wees,” het Capa gesê. “Ons kan saamstaan as ’n nasie.”
Volgens Capa kan sosiale misdaad in die land verminder word as mense ophou om wapens met wapens te beveg in plaas van met hul harte.
“Ons kan ook nie net skree en skree en na die polisiestasies hardloop maar niks self doen nie.”
Volgens haar moet die jongmense soos die 720 Narysec-groep ook help om die kwesbares en bejaardes te beskerm.
Anel Berry (DA), hoofsweep van die Oudtshoorn munisipale raad, het in haar bedanking ’n pleidooi gelewer dat elke dag Mandeladag moet wees. (Deur Garnett Wicomb)