Dit bly maar swaar…

Deur Johan Strasheim

Dit bly maar swaar om iemand te groet wat vir so lank deel van jou lewe en so naby aan jou was.
My skoonpa, dr Louis Nel, is laasweek oorlede na ’n kort siekbed. Hy was 96 jaar oud en tot baie onlangs nog eintlik baie gesond. Hy het nie te lank gelede nie nog sy eie motor bestuur!

Wat ’n voorreg om so lank te lewe sonder enige dramatiese intervensies of siektes. Daardie lewenslogboek is ’n paar vo-lumes dik met 3 kinders, 8 kleinkinders en 19 agter-kleinkinders.
Inderdaad ’n ware rykdom.

Louis Nel was nogal ’n trotse, merkwaardige man met statuur. Streng, puntenerig en soms selfs lekker hardkoppig, maar ook met ’n sagte kant – anders sou hy nooit ’n weeskind kraaikuiken kon grootmaak nie. (Die kraaikuiken is een Desember selfs in ’n boks saam op vakansie Knysna toe!) Hy was ’n boorling van die Oos-Kaap wat op Tukkies studeer het en daar sy doktorsgraad in Ekonomie behaal het. In daardie tyd het hy my liewe skoonma Miratio ontmoet. Wat ’n dierbare mens was sy nie. Sy is nou al vier jaar vooruit. Die tyd vlieg darem erg.

Dit is nie lekker om jou ouers te begrawe nie, maar seker maar hoe dit is. Die verloop van die lewe. Selfs in die Psalms skryf Dawid “’n Mens, hoe verganklik is hy tog: sy dae gaan soos ’n skaduwee verby.” Dit is uiteindelik ons almal se lot!

Pa Louis het so ’n paar jaar gelede ’n briefie geskryf in sy bewerige handskrif en dit vir Romana gegee om te bewaar en aan sy vrou voor te lees, sou hy eerste wegval. Ek lees vanoggend weer die hartstogtelike briefie wat toe nooit voorgedra is nie.

Die inhoud is eintlik ’n liefdesverklaring en dit bevestig sy rotsvaste liefde vir haar en verduidelik sy ongelooflike toewyding gedurende die lange jare wat sy in die siekeboeg by die aftree-oord gelê het. Hy was elke dag ure langs die bed aan haar sy om te ondersteun, moed in te praat en goedjies aan te dra terwyl sy stelselmatig en stadig agteruitgegaan het.

Die paar kere wat hy ’n dag of twee weg was het hy sommer skuldig gevoel! So ’n verhouding sien jy nie aldag nie.

Jy verwag dit, maar die oproep van die siekeboeg af in die middel van die nag om dadelik te kom bly maar ’n onwerklike gebeurtenis. Romana en ek is inderhaas dorp toe en ons was darem betyds om end-uit aan sy sy te kon wees. Sy kon Pa se hand vashou en hom verseker dat almal hier by hom is. Toe laat gaan hy en word stil vir altyd.

Nou ja … so dit is alweer tyd om te groet. Die bekende James Blunt sing ’n paar jaar gelede vir sy pa … “Oh, before they turn off all the light, I won’t read you your wrongs or your rights, The time has gone. I’ll tell you goodnight, close the door. Tell you I love you once more. The time has gone. So here it is.

Sleep a lifetime, Yes, and breathe a last word. You can feel my hand on your own. I will be the last one, So I’ll leave a light on. Let there be no darkness, in your heart.

I’m not your son, you’re not my father, We’re just two grown men saying goodbye. No need to forgive, no need to forget. I know your mistakes and you know mine. And while you’re sleeping I’ll try to make you proud. So, daddy, won’t you just close your eyes? Don’t be afraid, it’s my turn to chase the monsters away.”

Pa, jou pakkie lekkergoed is nou leeg, maar jy het werklikwaar jou lewenslekkertjies een vir een en stadig gesuig om elkeen ten volle te geniet. Moenie bekommer nie – jy het altyd gesê “hou net julle hande op die handles en julle voete op die pedals!” Nou ja, ons het hom so en sal so maak. Rus jy maar in vrede ou grote, jy het goed gedoen.

Jou plekkie is nou leeg hier maar nie in ons harte nie. Ons gaan jou regtig baie mis.

O ja … een laaste guns asseblief… stuur baie liefde vir ma! (Deur Johan Strasheim)